“All is fair…”

“Oh war! war! the dream of patriots and heroes! A fraud, Bluntchsli. A hollow sham, like love.”

Hierdie effens somber aanhaling kom uit my Engelse voorgeskrewe drama, Arms and the Man, deur Bernard Shaw. Dit is eintlik ironies, aangesien die drama ‘n komedie is – maar dit wys nou maar net hoe vinnig daar dieper, onderliggende gedagtes oor die lewe soms onverwags en op vreemde plekke kan opduik. Hoe hartseer, eintlik, dat die arme spreker, Sergius – wat nou nie juis enige leser se gunsteling karakter in die teks sou wees nie, aangesien hy ‘n arrogante, ongelooflik hoogmoedige soldaat is wat dink hy doen die heldin ‘n reuse guns deur aan haar verloof te raak – tot die punt kom wat hy die liefde afskryf as net so doelloos soos oorlog.

Ons almal het al gehoor van die bekende sê-ding, “All is fair in love and war.” Ek sal ‘n prys kan gee vir die persoon wat nou vir my kan sê hulle weet wat dit beteken – want ek moet bieg, ek weet self nie.

Dis hoekom ek dit gegoogle het. Dankie, Urban Dictionary.

Volgens die wonderlike, breedvoerige inligting wat vrylik beskikbaar is op die internet, beteken dié aanhaling min of meer die volgende: die enigste twee areas waarin jy vergewe word vir enigiets wat jy doen, is oorlog en liefde. In hierdie twee gevalle is daar dus nie reëls vir regverdigheid of “fair play” nie. Dit het veral betrekking tot gevalle wanneer daar vir liefde baklei word, byvoorbeeld tussen twee ouens vir die belangstelling van ‘n meisie.

Of ‘n mens saam met hierdie idee behoort te stem, is egter debateerbaar.

Is enigiets werklik aanvaarbaar as dit kom by die liefde? As ‘n ou sy pel se meisie afvry omdat hy lief is vir haar, is dit tog nie die ideaal nie… Die arme pel, wat haar waarskynlik éérste liefgehad het, word dan benadeel deur opsy geskuif te word sonder dat hy dit verdien. Shame.

Maar dit is natuurlik seker hoekom die aanhaling so vaag is. Niks is ooit wit en swart as dit kom by hartsake nie, maak nie saak hoe duidelik die betrokkenes dit graag wil hê nie. Dis ‘n groot, grys mengelmoes van emosies en gedagtes, en dan praat ons maar net van die stadium wat ‘n ou en ‘n meisie begin ogies maak vir mekaar by ‘n vriend se braai. Die grysheid van so ‘n situasie is veral ter sprake as die meisie klaar ‘n kêrel het, wat net daar langs haar staan.

Ek erken, ek is self nie die grootste ekspert as dit kom by verhoudings nie. Maar ek het wel, soos elke ander persoon, my eie filosofieë oor sake van die hart. Daar moet tog reëls wees as dit kom by sulke dinge, hoewel ek van mening is dat hierdie reëls van verhouding tot verhouding verskil.

Ek dink Sergius sit die pot heeltemal mis met sy siniese opmerking oor die liefde. Dis beslis nie ‘n klug nie, dis iets werklik en wonderlik – wanneer ‘n mens dit vind. Sommiges wag maar net in spanning vir die grys areas om wit te word.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s