Eybers se busrit

Ek is mal oor ’n bus. Behalwe vir die feit dat ek omtrent sestien ure lank op een moet sit om van Potchefstroom af huis toe te ry, voel elke rit soos een groot avontuur, elke keer saam met nuwe mense. En my sesde rit vir die jaar lê nou voor.

Ek onthou ’n gedig van Elisabeth Eybers wat ek nog op skool geleer het, “Busrit in die Aand.” Dis redelik bekend. Ek kan nie help om nou daaraan te dink nie.

In Eybers se gedig word die insittendes beskryf as moeg en stil na ‘n lang dag se werk. In die bus waarin ek nou ry, is dit ook waar. Hoewel dit meestal studente is wat die Greyhound-dubbeldekker vol sit en duidelik daarna uitsien om ná hul derde kwartaal op Potchefstroom huis toe te gaan, is die tekens van ’n moeilike paar maande duidelik: die donker kringe onder hulle oë, asook die afwesigheid van die normale, opgewonde studente-geselsies. Ek weet nie hoekom ek die mense op my bus met dié in Eybers se gedig wil vergelyk nie, maar op ’n manier is dit gepas.

Dit was ‘n lang kwartaal.

Die sitplekke is byna heeltemal vol, hoewel dit Donderdag is – wat beteken die meerderheid studente het besluit die laaste twee klasse wat nog nie vir môre gekanselleer is nie, net nie die moeite werd is om voor te bly nie (ek moet bieg, ek is self skuldig hieraan).

Ek sit heel bo, heel voor, by die venster: my gewone sitplek wanneer ek vroeg genoeg ’n kaartjie bespreek. Ek kan heel eerste die pad sien, ek kan my voete voor my teen die vensterbank laat rus, en ek het meer spasie voor my sitplek vir my handbagasie. Ek het ook ‘n baie beter uitsig: ek kan die plat Potchefstroom-landskap in sy volle glorie waarneem, tesame met die sonsondergang – die mooiste tyd van die dag in hierdie deel van die land.

Ek is ’n redelike realistiese mens, maar ek hou daarvan om te dagdroom. Sonder dat hulle dit agterkom, analiseer ek die mense op die bus (Laurika Rauch-verwysing, as jy dit dalk gemis het): soms is daar vrolike mense op die bus, soms is dit net een groot stilte vol ongeïnteresseerde onbekendes. Ek geniet albei – as ek toevallig langs iemand sit wat nie omgee om geselsies aan te knoop op die pad nie, of as ek langs ’n stil siel sit en genoodsaak word om maar myself te vermaak met my eie teorieë oor filosofie en sosiologie en vrae oor die lewe.

Soos waarmee ek nou besig is.

Dis ’n stil groep. Niemand praat regtig met mekaar nie, behalwe die twee meisies agter my wat duidelik vriendinne is. Naderhand droog hulle gesprek ook op. Nog voor ons op Klerksdorp kom, het die meerderheid mense al ingsluimer.

Ek wonder waarheen hulle almal op pad is… Ek klim op Mosselbaai af, maar die bus stop by Klerksdorp, Bloemfotein, Oudtshoorn, en George voor dit in my tuisdorp eindig. Ek sou dit nogals geniet om vir hulle elkeen te vra waar hulle afklim, en hoe lanklaas hulle by die huis was.

Ek raak self moeg, so ek probeer ’n gemaklike posisie vind om die sitplek in te wy. Dis moeilik, ek het redelik min spasie en geen kussing nie, maar ek maak dit werk.

Daar is presies drie sterre in die lug, naby aan mekaar, in die lug bokant die goue streep op die horison. Die son wil-wil ook gaan slaap, en hang nog halflyf in die lug oor die plat, uitgestrekte landskap. Teen môreoggend is ek by die see, glimlag ek tevrede. My oë val toe soos die son verdwyn, en die sterre raak al hoe meer terwyl die lug stelselmatig verander van oranje na pers, na navy-blou…

Ek droom verder met my oë toe, op Eybers se bus.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s