Die verskriklike ding rakende klavier

Aangesien die naam van hierdie blog ‘Kluisenaarslaviere’ is, sal dit seker gepas wees om ‘n paar woorde oor klavier te sê. Dit is, om die waarheid te sê, iets wat my baie na aan die hart lê.

Dit is immers ’n verskriklike ding as jy besef jy het verleer om klavier te speel.

Dit is soos om ’n stuk van jou siel te verloor, elke keer wanneer jy na ’n konsert gaan of ’n mooi klavierstuk iewers hoor speel. Jy weet dat jy ook so kon gespeel het, eendag, as dinge nie uitgewerk het soos hulle het nie… En met trane in jou oë wonder jy: hoe sou jy gewees het as jy aangehou het?

Ek het klavier gespeel. Tegnies doen ek seker nou nog. Maar op skool het ek die hele proses gevolg: praktiese eksamens, teorie, alles. Na my graad sewe UNISA-eksamen het ek opgehou – net die over-achievers doen in elk geval graad agt – en skielik was daar niks meer waarvoor ek moes oefen nie. Daar was baie stukke wat ek wóú oefen – net niks wat ek móés oefen nie. En dit het my lui gemaak.

Ja, ek erken dit. Na twee jaar se speel vir ontspanning, het ek uiteindelik besef: as iemand my nou moes vra om ’n graadsewe-standaard klavierstuk vir hulle te speel, sou ek vir hulle lag. En dan later my kop in skaamte laat sak.
Dis nie dat ek glad nie meer kan speel nie. Inteendeel, wanneer ek vakansies by die huis is, is die eerste ding waarna ek wil hardloop my pragtige, net-net-nog-ingestemde klavier wat na al die jare nogsteeds op dieselfde plek in ons sitkamer staan. Maar daar is niks wat my op die bankie voor die klawers hou nie; ek sal halfpad met ’n stuk vorder, en dan iets anders kry om te doen wat op daardie oomblik meer belangrik is. So, uiteindelik sit ek met ’n handvol half-speelbare stukke, en twee of drie wat darem klink asof dit deur ’n musikale persoon met klassieke opleiding gespeel word.

Vir enige musikant is dit die toppunt van hartseer.

Ek weet dit was eintlik my onderbewussyn se keuse: ek gaan tog nie eendag ’n professionele pianiste word nie, so wat is die punt dan eintlik?

Die punt is dit: dis ’n skande om vir twaalf jaar lank klavier te speel en dan net ’n minimale aantal stukke te hê wat geskik is vir optrede.

’n Absolute skande.

Ek dink dis tyd om myself reg te ruk. Dis moontlik iets wat ek eendag vir my kinders sal kan leer. En my ouma sê altyd dit is die een ding waaroor sy spyt is: dat sy nooit geleer klavier speel het nie…

Ek is te lief vir musiek om nie hierdie probleem te probeer oplos nie. Dit kan net nie langer so aangaan nie; my vingers jeuk al lankal.

As ek maar net nie ’n student was nie… in ’n koshuis ver van die huis af, met ’n ou, net-net-nie-ingestemde klavier waarvan vyf note nie meer werk nie, in die ontspanningsaal waar jy in elk geval gewoonlik uitgejaag word deur mense wat yoga wil doen of 7de Laan wil kyk. Dis ’n moeilike stryd, maar dis een wat die moeite werd is om aan te pak.

Binnekort speel ek weer Debussy en Bach en Schumann, soos in my vroeëre dae van musikale glorie.

Nou is dalk nie die beste tyd om te sê dat ek nou wel nie juis my graad sewe eksamen met lof geslaag het nie… Dis irrelevant.

Advertisements

One Comment Add yours

  1. Carla says:

    “Die verskriklike ding rakende klavier.” Baie goeie kortverhaal. dit laat mens dink. 😉

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s