Ken jy die see?

Kom ons wees eerlik: die see is nou maar net een van daardie dinge waarvan almal hou. Selfs al hou jy nie van taai sout in jou hare of grillerige sand tussen jou tone nie – niemand het nog ooit gefrons vir ’n sonsondergang oor die see, of hul oë gerol terwyl hulle van hul stoep af na die blou horison kyk nie.

Die see bied iets aan almal: of dit nou ’n mooi uitsig vir ryk mense se duur vakansiehuis teen ’n heuwel is, of ’n bron van oorlewing vir die plaaslike vissermanne. Soms wonder ek of daar werklik iemand kan bestaan wat nie van die see hou nie. Dalk stadsjapies? Maar hulle moet ook tog iewers vakansie gaan hou…

Ek het feitlik grootgeword op Hartenbos se strand, so ek is gebore met soutwater in my are. Die daaglikse stryd wat ek in my hart moet voer terwyl ek in Potchefstroom studeer, is om nie die see te veel te mis nie – en glo my, ek kry dit nie altyd reg nie. Dan vat ek gewoonlik die pad af na die Fanie du toit-sportsentrum, beter bekend as die Fanie, vir die enigste lafenis tot my beskikking: die koue, geplaveide, soutlose, semi-olimpiese standaard swembad. Hier verbeel ek my dat ek onderdeur ’n brander duik as ek na die sementbodem swem, of dat ek op die uitkyk vir haaie is wanneer ek die ander mense in die swembad probeer vermy.

Nie juis ’n goeie plaasvervanger nie – maar verbeelding is gelukkig een van my sterkpunte.

Daar is al soveel, té veel, mooi woorde en gedigte en stories geskryf oor die see. ’n Mens sou dink dat dit naderhand afgesaag raak om daaroor te skryf, maar om die een of ander rede doen dit net nooit.

Ek kan vir ewig aanhou oor die vrede in my binneste as ek alleen op die strand sit en dagdroom – natuurlik nie in seisoentyd, wanneer die hele land in Hartenbos kom vakansie hou en al my goeie sitplekke op die sand ingeneem word nie. Ek kan pragtige beskrywende woorde uitdink om die groenerige helderheid van die branders op ’n sonnige dag uit te beeld, of die onheilspellende grou kleur daarvan op ’n ontstuimige, bewolkte dag. Ek kan vir ewig dink aan hoe ’n mens maklik al jou geheime aan die geduldige, raserige en kalmerende blou watermassa kan verklap as jy lank genoeg in sy geselskap sit, terwyl jy dink en wonder oor al die dinge wat jy nie eers geweet het jou pla nie. Dit alles terwyl jy, sonder dat jy dit agterkom, instem om vir ’n oomblik die werklikheid agter te los en net te luister na die ritmiese branders… en die skril geskreeu van die seemeeue.

Ek kan eindeloos hierop uitbrei – maar, soos ek genoem het, iemand het dit waarskynlik al voorheen gesê. Dalk in beter uitgebreide woord en beskrywings as wat ek ooit sal kan uitdink.

Weereens, ek weet die see is nie vir almal nie. ’n Mens kry jou vrywillige stadsjapies, die plaasmense, die plattelanders, die bergbewoners. En tog, selfs al kom ek van Hartenbos af, droom ek oor niks anders in my verre toekoms as om af te tree in my huisie by die see nie.

Jy kan dus verstaan hoekom ek myself kwalik neem dat ek nou nog nie geleer het hoe om te surf nie.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s