Die kuns van derde wiel speel

Ja, jy het reg gelees: dit ís ’n kuns. En, om die waarheid te sê, ’n heel belonende een – as jy dit reg doen. Ek, persoonlik, is een van daardie mense wat dit heeltemal té goed doen. Ek het myself al semi-amptelik verklaar as deel van my beste vriendin se verhouding met haar kêrel. Ek word nie geklassifiseer as die derde wiel nie, maar wel as iets baie meer noodsaaklik: die ‘stuurwiel’.

Hier is hoe ek dit sien: die derde wiel, soos die spaarwiel van ’n kar, is nie so nodig in ’n onmiddellike situasie nie – die stuurwiel, aan die ander kant, is wat die hele voertuig op die pad hou. So werk dit ook met verhoudings; hulle kort iemand om middelmannetjie te speel as daar gestry word, of daardie een persoon wat nog in die awkward stadiums van die verhouding saam na ’n kuiergeleentheid toe gaan – net sodat dit nie té ooglopend lyk asof jy eintlik net opgedaag het om spesifiek die ander persoon te sien nie. Die stuurwiel gee ook goeie, objektiewe raad aangaande die ander persoon vir beide lede van die verhouding, afsonderlik. Die stuurwiel weet ook natuurlik presies wanneer om stil te bly in ’n paartjie se gesprek, en in sommige gevalle, wanneer om weg te kyk terwyl jy langs hulle in ’n fliek sit.

Sien? Dis ’n kuns. Hierdie mense is duidelik bitter belangrik in die moderne samelewing.

Die stuurwiel is ook, glo dit of nie, nie slegs beperk tot derde wiel nie: dit kan gebeur dat die stuurwiel homself in ’n situasie bevind waar hy vyfde wiel aan ’n voertuig moet speel, en in uiterste gevalle (met uiters slegte vriende) selfs sewende wiel. Hier, hartseer genoeg, praat ek ongelukkig uit ervaring… Maar dit is hanteerbaar, ek belowe. Solank jy ten alle tye ’n positiewe gesindheid handhaaf tydens die tye wat jy saam met jou verskeie voertuie spandeer, en klagtes of gespreksinsette tot ’n minimum hou. Om die mens te wees wat die paartjie(s) gewillig toelaat om saam met hulle rond te loop of uit te gaan of iets te gaan doen, is ’n eer – moet dit nie misbruik nie!

Enkellopendes, moenie bekommer nie: julle tyd vir ’n gelukkige, idilliese tyd van verlief wees sal nog kom. Maar tot tyd en wyl, maak die beste van jou situasie, en leer uit ander verhoudings! Die beste manier om dit te doen, is om die perfekte stuurwiel vir die verhouding naaste aan jou te wees. Wie weet? Hulle mag dalk net die guns aan jou terugbewys, iewers in die toekoms.

Liefde, vrede en voorspoed vir al die verhoudings daar buite! En die broodnodige derde, vyfde en sewende wiele.

(NASKRIF: Nuwe, anonieme roman aangaande Die Kuns van Stuurwielskap binnekort op pad. Kopiereg voorbehou. Geen direkte verwysings na bestaande verhoudings is gebruik tydens die skryf van die bostaande paragrawe nie. Geen voertuie is beskadig tydens die skryf van die bostaande paragrawe nie.)

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s