Nuwejaarsvoornemens en ander lagwekkende dinge

Ek wil begin deur te sê dat ek hierdie stuk op 31 Desember 2016 begin tik het, met die goeie voorneme om darem voor die einde van die jaar weer iets op hierdie redelik dormante blog van my te skryf.

Ongelukkig het die vissersdorpie, Witsand, waarin ek en my familie vakansie hou, slegs een ligging waar daar gratis WiFi beskikbaar is, en dit is by die plaaslike hotel. Omdat die hotel baie verder as stapafstand van ons gehuurde vakansiehuis geleë is, en boonop seker stampvol internetgebruikers sal wees wat 2017 by die buitenste kroeg met die eksotiese rivier-en-see-uitsig tegemoet wil kom, kon ek dit eers op 1 Januarie 2017 regkry om hierdie plasing te maak. Ek het toe sommer van die geleentheid gebruik gemaak om my hele nuwejaarservaring in te sluit.

So ja, ek weet ek’s laat, maar happy new year, in elk geval.

My oujaarsaand was, om die minste te sê, rustig. Ek het die aand soos elke ander aand die afgelope vakansie in die geselskap van my uitgebreide familie spandeer. Teen nege-uur se kant was ons klaar geëet en hoogs gemotiveerd om wakker te bly tot twaalfuur. Teen tienuur het ons nog op dieselfde buitelug-kuierstoep gesit, met ’n koppie koffie in die hand, en effens minder gemotiveerd om twaalfuur te haal. Tien minute later het ek uit desperaatheid my jong niggie en nefie probeer vermaak met die DVD-opname van ons koshuis se 2016 Sêr (wat darem heel goed gevaar het hierdie jaar, so dit was ten minste ’n kwaliteit opvoering).

Die grootmense het die sjampanje ’n uur en ’n half te vroeg oopgemaak, want die onderskeie gesinne het al begin dink aan huis toe gaan. My ma se suster en dié se man en kinders het teen elfuur die handdoek ingegooi en ons plegtig genooi om die vuurwerke om middernag by hulle huis, wat aansienlik nader aan die strand is, te kom kyk indien ons wou. My ander oom-hulle het ’n halfuur later ook gegroet.

So, met dertig minute van die jaar wat oorbly, het ek buite in die donker straat gaan wag vir die groot oomblik wat twaalfuur sou wees. Om die tyd om te kry, het ek gedink aan die hemelse peppermint crisp-tert wat my tannie vanaand vir nagereg gemaak het, en ek het tevrede gevoel oor die feit dat dít die laaste item was wat ek in 2016 geëet het. Ek kon nie die vuurwerke op die strand sien nie, en ek het ’n bietjie hoogte probeer kry deur agterop my oupa se geparkeerde Isuzu bakkie te klim.

En daar het ek gesit, die nuwejaar gegroet en geluister na die veraf stemme van jolige feesvierders toe my foon se skerm 00:00 gewys het. Die vuurwerke (wat ek steeds nie kon sien nie) het soos springmielies in ’n mikrogolfoond geklink soos hulle van die strand se kant af geskiet het, en ek het geïnteresseerd deur die bure se oop venster gekyk hoe Glam Guru op kykNET klankloos met die een of ander nuwe haarproduk spog.

Ek het wel een vuurwerk gesien, en dit was die verskietende ster wat in die besonders helder, oopgetrekte aandlug verbygestreep het. Ek weet nooit watter wens om te maak wanneer ek ’n verskietende ster sien nie, so ek geniet gewoonlik maar net die skoonheid van die verskynsel. Dit het my, om die een of ander rede, toe sommer aan die dink gesit oor nuwejaarsvoornemens – jy weet, maer raak en goeie dade doen en ’n nuwe stokperdjie begin, daardie tipe ding… En ek het besef ek het nie eintlik enige spesifieke voornemens nie. Dit klink eintlik sleg, maar ek het net nog nie regtig tyd opsy gesit om te dink oor wat ek anders wil doen in 2017 nie (behalwe miskien om natuurlik die derde jaar van my kursus met ywer en die nodige fokus aan te pak). Miskien oor ek eintlik nogal heel gelukkig was in 2016. Wel, meestal – ’n mens kan uit die aard van die saak ook nie heeltyd gelukkig wees nie. Dit sal net hopeloos te oninteressant en irriterend begin raak. Die woord wat ek eerder sou gebruik vir die afgelope jaar is ‘tevrede’.

Ek is een van daardie tipe mense wat glo in meant-to-be. Dit help nie om te wag vir of te soek na iets wat nie vir jou bedoel is nie. Dit is, heel eenvoudig gestel, ’n mors van tyd. Al wat jy het, is dit wat jy het. Dit sluit natuurlik jou drome en planne in (ek dink ook darem nie ’n mens moet net rondsit en wag dat dinge met jou moet gebeur nie), maar dit sluit ook dinge in wat jy glad nie voor beplan nie. Elke oomblik is ’n nuwe een, so jy het letterlik ’n oneindigheid van nuwe kanse, as jy mooi daaroor dink. So, hoekom wag vir die begin van ’n nuwe jaar voordat jy daardie nuwe stokperdjie begin? Hoekom die nuwe jaar as verskoning gebruik om skielik op te hou rook of ’n gesonder eetplan te begin volg? Hoekom in 2017 begin om jou memoirs te skryf, of ’n duiweboerdery te stig, of ’n nuwe belangstelling in fotografie na te streef, as dit tot op hede toe nog nie belangrik genoeg was om mee te begin nie?

As jy die aanvang van die nuwe jaar gebruik as motivering om daadwerklik ’n positiewe wending in jou lewe mee te bring, then by all means – gaan daarvoor. Ek sê nie nuwejaarsvoornemens is ’n slegte ding nie, inteendeel. Ek sê wel dat dit sleg kán wees indien jy hier teen Mei-maand teleurgesteld besef dinge het nie uitgewerk soos wat jy gehoop het nie… Dit is dan wanneer jy moet kyk na alles wat wél positief verloop het tot daardie oomblik toe, want soos die Liewe Vader ons verseker, is daar altyd iets om voor dankbaar en vreugdevol te wees. Of dit nou op 1 Januarie, 19 April of 8 Desember is.

Dit was maar ’n paar van die gedagtes wat deur my kop gegaan het terwyl ek agterop my oupa se bakkie gesit het. Ons buurman (die een wat aan die ander kant van ons bly – nie die Glam Guru-aanhangers nie) het sy banjo gaan uithaal, en hulle luidrugtige familie was besig om stokou FAK-liedjies vir die jong jaar te sing. Teen tien minute oor twaalf het die laaste springmielie-vuurwerke se klanke ook stil geraak, maar die wêreld was alles behalwe op pad om te gaan slaap. Ek kon die sokkie-musiek hoor wat van die hengelsaal af gekom het, en uit omtrent drie verskillende huise wat binne hoorafstand was, kon ek hoor hoe die laggende stemme op die wind aangedra word. ’n Gelukkige oomblik, as ’n mens dit ’n naam kon gee. Soms het die mens ’n rede nodig om die lewe te vier: ’n nuwe jaar bring nuwe hoop, en dit is mooi genoeg om tot middernag toe voor wakker te bly.

Ja, dit is uiteindelik 2017 – sommige mense het nie eers gedink die wêreld gaan dit maak tot hier nie (skimp-skimp, ‘Mayan Calendar’). Ek sê weer, elke oomblik is ’n nuwe een – nie net elke jaar nie. Miskien is daar iets in jou lewe wat verandering nodig het, maar nóú is so goed soos enige tyd om iets te doen daaraan. Onthou net, altyd, om dit te geniet!

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s