Die Storie van 215,5 Windpompe

Daar is 215 (en ’n halwe) windpompe tussen Colesberg en Beaufort-Wes. Hoe weet ek dit? Ek het hulle getel.

Dis reg, ja. Maar dit is ook nie al wat op die pad gebeur het nie… Hier volg een ongelooflike storie van die Ultimate Roadtrip-vertelling, met kleur en geur aangepas deur: bestuurder Arno Hollander en sy shotgun/co-pilot/kaasbroodjievoerder-tydens-langpadsessies, Rouxné van der Westhuizen.

(Inlas: hierdie is wel ’n bietjie van ’n laat verslag, maar dit was so legendaries dat dit net op ’n manier vertel móés word. Selfs al is dit vier maande later.)

Die groot dag het aangebreek waar ek en my goeie vriend – die bestuurder, Arno – vir die eerste keer sedert Augustus sou huis toe gaan. Dis kwart voor vier die oggend, maar nie een van ons gee om nie. Die vooruitsig om weer die see en die huis te sien is te inspirerend om te dink oor die feit dat dit, onder normale omstandighede, nog te vroeg is om te funksioneer.

Die oggend het begin met koffie by die 24-uur Wimpy op die Bult. Net nadat ons bestel het en ek besluit het ek is eintlik honger, moes ons die kelnerin weer wakker maak om ’n kaasbroodjie te maak. Iets wat ons geleer het, is dat dit wel goedkoper is om ’n broodjie sonder chips te bestel.

Die kortste pad huis toe, volgens Hendrina (Arno se GPS), sal ons om 15:20 by die huis kry indien ons nie stop tussenin nie. Maar ons gaan stop. Die eerste avontuur begin sommer klaar waar ons ’n wiel moes omruil in Bothaville, ’n plek waar ons eintlik bitter graag nié wou stop nie. Arno het een van die tienduisend en veertien slaggate tussen Potchefstroom en Bothaville getref – net een – en die rim het effens gebuig daaruit gekom. Ons besluit toe maar om hom eerder om te ruil, en om dit op die regte manier te doen, het ons die hulp van baie vroeë-diens petroljoggie gevra (vir ’n fooitjie van R20). Net vir ingeval.

Toe ons weer op die pad kom, sien ons iets wat in die vroegoggendlig aanvanklik soos ’n bok gelyk het, maar in werklikheid net ’n aalwyn was. Daar is deurlopend op die pad verskeie dom voëls teëgekom, wat om die een of ander rede die neiging het om REG VOOR die kar in te vlieg. Dit is dus hul eie skuld indien hulle iewers op die snelweg ’n paar vere aan die vooruit van ’n blou Honda i10 afgestaan het. Amper soveel dom voëls as slaggate – amper. Ek het, tot my verleentheid, twee keer gekoes vir ’n tarentaal wat búite die kar opgevlieg het. “Roadtrip” van Kaleidoskoop het gespeel, en ons het gedink dis ’n baie oulike toeval, aangesien ons op ’n roadtrip was…

“Highway to Hell” het ook, heel toevallig, gespeel terwyl ons op die highway was.

Ons het verby ’n kar gery wat langs die pad gestaan het met twee mense wat hulp vra… Ja, ons het ’n bietjie sleg gevoel, maar die situasie het wel ‘scaly’ gelyk (dit was immers in die middel van nêrens – enige kwaliteit moordstorie begin so). Daar het darem ’n oom met ’n bakkie van die ander kant af gekom en afgedraai het, so toe het ons darem beter gevoel.

In nog ’n wonderlike oomblik van toeval, het ons perde langs die pad gewaar terwyl “Spirit: Stallion of the Cimarron” se klankbaan in die kar gespeel het. Ons het ’n dom tor ook ontmoet, plegtig teen die voorruit.

’n Paar waarnemings wat ons langs die pad gemaak het: een standaard sonneblom in die gronderige rand langs die pad, ’n windpomp sonder lemme, en ’n JAKKALS (#foxandthehound). Iewers tussen Bothaville en Bloemfontein het ons moontlik ’n voël doodgery… darem nie ’n tarentaal nie, maar hy was steeds dom.

Tydens ’n pitstop op Bloemfontein, koop Arno vir hom ’n Wimpy-broodjie en ’n Score. Ek koop ’n promosie van twee Energades vir goedkoop, en ’n baba-pakkie Flings.

Alles lyk dieselfde langs die N1, en daar is ongelooflik baie trokke.

By Colesberg aangekom, lyk die wêreld steeds plat. Verdere waarnemings: ’n bottel in ’n boom by Hanover, lukrake warrelwinde, ’n vlam-spook (wat eintlik net ’n rooi lap was wat in ’n tak vasgesit en deur bogenoemde warrelwind rondgefladder is, maar ons was moeg en het gedink dis snaaks…), die ABNORMAL/E-trok (wat ’n aantal karre vervoer het en omtrent elke keer vir Arno gevolg het as ons afdraai vir ’n badkamerbreek by ’n petrolstasie) en drie gemsbokke – ons vermoed hulle was vroulik – by Drie Susters.

Ter afsluiting: Ek het reeds die aantal windpompe tussen Colesberg en Beaufort-Wes genoem: 215-en-’n-half (die windpompe sonder lemme is getel as halwes). Ek het met die tellery van die windpompe begin as ’n manier om vir Arno wakker te hou, soos dit ’n goeie shotgun betaam. Dit is wel nie ’n baie akkurate getal nie – daar is eintlik baie meer, maar ons het hier en daar ’n paar gemis, weens moegheid of onoplettendheid of albei. En die prys vir die Beste Nommerplaat van dié jaar se Noordwes-Wes-Kaap roadtrip gaan aan:

“BESEM WP”.

Daar is niks soos ’n goeie roadtrip huis toe om die jaar af te sluit nie, maar hierdie een het wragtig lank gevoel… So, ek het vergeet om verdere notas of opmerkings vir die res van die pad te maak. Maar wees egter verseker: dit was een onvergeetlike reis!

Advertisements

2 Comments Add yours

  1. AwethentiQ says:

    Voëls vlieg graag in blou motors vas omdat hulle dit verwar met die hemele daar bo. Ek het dit oor baie jare waargeneem. Die Bult? Dus ken jy Turkstra-bakkery, wat ons aan die lewe gehou het met reuse vetkoeke tydens diensplig. As jy nou weer in Beaufort kom, kry gerus lekker springbokpasteitjies by Oom Johnnyse Good Hope Bakkery. Ek kry nou sommer lus vir langpad ry, maar mens het deesdae ‘n Geländewagen met drie ewenaarslotte nodig vir ons teerpaaie…..

    Liked by 1 person

    1. Ek ken beslis vir Turkstra! Steeds een van die groot gunstelinge onder Potch-studente. En dankie vir die raad, sal definitief ‘n pasteitjie gaan proe!

      Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s