Knysna

Hierdie is nie een van my gewone tipe plasings nie, maar daar is te veel dinge wat op my hart druk vir my om nié iets daaroor te sê nie.

Ek het nooit gedink die dag sou kom dat dit my soveel ongeloof en pyn sou veroorsaak om die Weg!-tydskrif te lees nie. Maar dit is hierdie maand se geval.

Die voorblad lui iets soos die volgende: “Tuinroete – Stap, trap, swem en eet en bly hiér” en “Jou Knysna-gids”… In die lig van laas week se brande, kan jy dus jou afleidings maak oor hoekom my hart bloei terwyl ek François Haasbroek se mooi beskrywings en wenke lees oor die aktiwiteite, eetplekke, historiese besoekplekke en uitkykpunte in Knysna en die omliggende omgewing.

Dit klink dalk effens selfsugtig: ek bly in Hartenbos, nie Knysna nie, en boonop sit ek tans in Potchefstroom wat letterlik duisende kilometers weg is van albei. Maar kom ek verduidelik my hart.

Vir die meerderheid van my hoërskoolloopbaan was ek deel van Hoërskool Punt se hoogs aktiewe Natuurleweklub, wat onder andere bestaan het uit ten minste een keer ’n kwartaal se staptog in die Outenikwa-roete, Knysnabos… Die einste roete wat ek herken as ek na die dubbelblad kaart op bl. 32 van die Weg! kyk. Die bos waarvoor Dalene Matthee en menigte ander skrywers so lief was, en waarin ek altyd vir Oupoot en die Knysna-loeries geluister het, en my ‘Kringe in ’n Bos’ kon verbeel…Tot op hede kon ek nog nie uit die nuusberigte agterkom wat die skade aan hierdie bos was nie. Maar gelukkig weet ons die natuur verloor nooit ’n geveg nie – met die eerste reën sal die groen weer deurskemer.

Ek en my gesin is ook lief vir naweekuitstappies, en ’n paar van my kinderlewenaweke is in Knysna se Waterfront spandeer, of in die strate van die dorp met die mooi koffieplekke en winkels. Een so ’n naweek was in Belvidere, toe ons gaan kyk het na die pragtige, klein, historiese kerkie waarvan ek nie eers die naam kan onthou nie, maar waarin my dromerige jongmeisie-self haarself nog eendag sien trou het. Ek kry dit nie op een van die miljoene berigte wat oor die afgelope week geplaas is nie, so ek weet nie eers of hierdie kerkie nog staan nie.

Al hierdie is niks in vergelyking met wat werklik verlore is nie: die huise, 439 van hulle, alles wat hulle eienaars besit, alles wat hulle gehad het om aan die lewe te bly, alles wat hulle oor jare heen opgebou het en aan waarde geheg het, sentiment en essensie – alles weg. Die 7 mense wat hulle lewens verloor het… Hoe herstel ’n dorp, die mense wat hulle geken het, na so iets?

Hulle verwys daarna as die Knysna-brande, maar dis eintlik ’n baie groot area rondom Knysna wat ook geraak is – Buffelsbaai, Plettenbergbaai, Sedgefield – hulle kon dit, meer prakties, die Suid-Kaap brande genoem het.

’n Mens soek nooit blaam in ’n natuurramp nie, maar dit kan ’n frustrasie raak wanneer daar die kleinste moontlikheid opduik dat dit dalk verhoed kon word. Maroela Media het op 9 Junie berig die oorsprong van die brand kon moontlik ’n gedeelte onderbos gewees het wat blykbaar vir weke reeds gelê en smeul het. Netwerk24 het ook hieroor geskryf, die oggend van 11 Junie, en blykbaar is hierdie onderliggende brande weke vantevore veroorsaak deur ’n weerligstraal. Die onverwagse sterk winde ná die erge Kaapse storms is dalk al wat nodig was om daardie smeulende kole te laat vlam vat, en hoewel ’n mens steeds nie behoort te bespiegel sonder die staafbare feite nie, wonder ’n mens in elk geval hoekom hierdie smeulende onderbos nie lankal geblus is nie?

Die bos, die dorp, die mense en die hartseer… Dit is iets wat nog vir baie lank in my hart, almal in die Tuinroete en elders in die land s’n, sal spook. Maar wat nog verdere trane in my oë bring is die onnodige kommentaar, te veel om te noem, oor die belaglike ‘redes’ vir die ramp, die verwyte, die gewetenlose verlekkering wat sommige mense – burgers van dieselfde land – op sosiale media deel… Dis om van siek te raak, en beslis nie die moeite werd om te herhaal nie. My hart breek net verder om te dink aan wat mense sou dryf om só teenoor ander se swaarkry te reageer. Dis net nog ’n ramp, ja, waarvan daar duisende wêreldwyd gebeur, maar dit het steeds lewens geëis en ander lewens verwoes – en hoewel niks die skade ten volle sal herstel nie, is dit nie nodig om dit met irrelevante onderwerpe en verwytende woorde te vererger nie.

Maar, terwyl alles aan die afgelope week heeltemal hopeloos en sonder ’n greintjie mooiheid vertoon, is daar dinge wat mense soms miskyk wat vir my, persoonlik, hoop gee vir die mensdom en Suid-Afrika. Helfte van die video’s van die Suid-Kaap brande het beeldmateriaal van die vlamme en die brandende huise, geboue en bosse bevat wat mense en nuusagentskappe geneem het. Die ander helfte, wat ek tussendeur hierdie eerstes gesien het, was oor mense uit die omliggende dorpe en kerke wat hope en hope skenkings – kos, klere en baie ander goed – in pakkamers en parkeerterreine sorteer, terwyl trokke in die agtergrond met nog skenkings aangery kom. Sakke en sakke vol goed… Van mense wat die eerste helfte van die video’s gesien het, en nie eers noodwendig in die omgewing bly nie, maar op die kleinste manier wat hulle kan die mense van Knysna wil help.

En dit was vir my die hoogtepunt van die hele storie – die trane hou aan kom, maar van verligting en blydskap.

Daar is 39 DHL-punte regoor die land waarby mense goedere kan aflaai om na die Knysna-omgewing gekoerier te word. Daar is ’n hele aantal organisasies en vrywilligers uit George, Mosselbaai en ander nabygeleë dorpe wat skenkings help aflaai en sorteer, en hulle kry daagliks meer hande. Nestlé het ’n aantal trokke geskenk wat water aangery het om te help met die blus van die brande, en om drinkwater (’n skaars entiteit in hierdie krisis) vir die mense aan te ry. Caspar Lee en Josh Pieters, twee internasionaal bekende YouTube-sterre, het ’n video gemaak waarop hulle van al hulle YouTube-aanhangers ondersteuning vra deur geld te skenk vir hulle tuisdorp – Knysna. Die ‘Classics is Groot’-vervaardigers hou ’n ekstra konsert, Saterdag 24 Junie, by die Moreletapark-ouditorium in Pretoria ten bate van die organisasies wat aan Knysna hulp bied. Ons eie Studente JOOL Gemeenskapsdiens op die NWU Potchefstroomkampus het skenkings onder die studente bymekaargemaak en per bus na die Tuinroete vervoer.

Dit is maar net enkele voorbeelde… Weereens sit ek te ver van die huis af om van al die aktiwiteite wat in die Knysna-omgewing plaasvind, te weet. Ek sit maar net magteloos en kyk vanuit my veilige koshuiskamer in Potchefstroom, en dink aan maniere om ’n bydrae te maak. En ek probeer meer berigte kry wat sê dat die brande nou weer grootliks onder beheer is, maar gelukkig is daar ’n hele paar van hulle. My hart en gebede gaan uit aan die mense wat deur hierdie vreeslike ding geraak is, op watter manier ookal. En ek juig oor die mense in ons land wat van oral – letterlik – hulp aan die mense in Knysna stuur, wat hoop en medemenslike liefde toon te midde van die trane en hartseer.

Hierdie maand se Weg!-tydskrif sal ’n ereplekkie op my rak kry, en wanneer ek die komende naweek huis toe gaan, sal ek vir myself kan sien hoe lyk Dalene Matthee en Oupoot se bos, die pragtige dorp en alles rondom dit… Maar ek sal ook weet dat God sy kinders nie in die steek laat nie, en tyd genees nie alles nie, maar Hy kan, deur liefde – soos ons dit kon sien in die dade van soveel mense in die afgelope week.

Sterkte, aan almal wat vir die volgende rukkie moedeloos wonder hoe hulle weer hul lewens opgebou gaan kry – julle is nie alleen nie.

Advertisements

One Comment Add yours

  1. Hester looch says:

    Die Belvedere kerk het wonder bo wonder nie gebrand nie!

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s