Inleiding tot ‘n Post-reis Memoir

Ek maak geen geheim daarvan dat ek ’n diepgewortelde begeerte het om die wêreld te sien nie. Ja, daardie bekende, oë-rol-algemene droom waaroor seker een uit elke… Wel, elke mens op Aarde beskik. Om nuwe mense te ontmoet, nuwe plekke te sien, al daardie ‘glamorous’ dinge waarvan gesoute reisigers praat na hulle nuutste sielsoekende avontuur… Ek is een van daardie massas wat vir die sjarme van die onbekende geval het.

HierdieIMG_20170715_175038_683  jaar was ek bevoorreg genoeg om ’n goeie voorsmaak tot die internasionale lewe te kry ‒ in die vorm van ’n koortoer. Dit was een reuse bonus om, as lid van Potchefstroom se universiteitskoor, vir drie weke van hierdie jaar se Junie-vakansie deur Europa te kon toer. Saam met die NWU-PUK Koor het ek stukkies van Nederland, Duitsland, Oostenryk, Slowenië, Kroasië en Italië beleef… en elke oomblik ingedrink soos ’n spons in ’n reënstorm.

Nodeloos om te sê, gaan dit aansienlik meer as een blog-inskrywing vat om die volle ervaring van hierdie toer weer te gee. So, ek gaan net ’n algemene inleiding kan gee in hierdie een.

Elke persoon wat ek ontmoet het was soos ’n nuwe stel oë waarmee ek die wêreld op ‘n nuwe manier kon bekyk: Barbara, ons toergids in Verona; die Amerikaanse koor by die kompetisie is Spittal an der Drau,  met wie ons sommer vinnig vriende gemaak het danksy ons verbale begrip vir mekaar (Engels is nie so algemeen in sekere dele van Europa soos ‘n mens sou dink nie); die duikinstrukteur in Kroasië (goed, tegnies het ons hom nie ontmoet nie, maar ons het baie brawe stories oor hom in Afrikaans vertel elke keer as ons op Rovinj se kaai by hom verbystap); my en my toermaat (“toera”) se amper-80-jarige Nederlandse gasouer, Jan van Paassen, wat steeds op sy ouderdom saam met sy hokkiespan Skotland toe reis; die kelner by die Hotel Simeter in die hartjie van die Oostenrykse Alpe, wat ons vertel het van die mooi voetslaanroetes tussen die omliggende bome; die onbekende gryskop oom wat vir ons die reuse klok in Lubljana, Slowenië, gewys het; te veel ander om te noem…

Elke nuwe plek en uitsig het ’n dormante deel van my brein en die manier waarop ek oor die lewe dink, oopgemaak en verander. Hier kan ek sommer baie noem: die familiewynplaas in Kroasië, die kapel aan die onderkant van die Ljubljana kasteel in Slowenië, die biertuin in Salzburg met die akkerbome, geel liggies en staaltafeltjies, die spesiaal-vir-fietse baan langs die snelweg buite Amsterdam, die kraaltjie met die llamas in die klein Duitse dorpie van Freigericht Neuses, die 99 trappe van die kerk-eilandjie in Bled… ensovoorts, ensovoorts. Ek sal tog, verder in die toekoms, oor elkeen van hierdie plekke wil skryf – behóórlik skryf –  maar ek sal dit selfs beter kan doen as ek eers teruggaan en hulle elkeen weer, sonder ‘n beperkte skedule, kan ervaar.

Ek het die beste van elke nuwe ervaring probeer maak, dit so lank as moontlik probeer uitrek, maar ‘n mens kan tyd ook net so lank probeer kul. Al wat ’n mens kan doen, is om alles te probeer onthou. Ek het dit goed gedink om ’n joernaal te hou. Ander het tagtigduisend-en-twee foto’s geneem. Party het selfs die servette, ‘coasters’, botteltjies of ander hou-goedjies uit hotelkamers en restaurante gegaps (hieraan is ek ook skuldig, sentimentele hart wat ek het). Want ’n ervaring soos dit, wat uit soveel dele en stories bestaan, moet net eenvoudig behoue bly. En daarom sal ek poog om enkele oomblikke daarvan weer te gee, in die mees gepaste bewoording wat ek kan, tesame met ’n hier-en-daar-foto (daar is eintlik te veel).

So, vir die volgende rukkie is hierdie iets soos ’n ‘post-travel’ blog. ’n Reis-memoir, lank ná die reis. Indien daar so iets bestaan. Geniet hom.

 

 

 

 

 

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s