My Klein Sloweniese Draak

Die mense van Slowenië praat hulle eie taal. Slowenies, Sloweens. Dit klink soos ’n mengsel tussen Russies en Duits ‒ nie baie sag op die oor nie. Maar die aksent is nogal mooi as hulle Engels praat daarmee.

20170711_093841

20106499_1852228274804179_7543248018835104658_n

Tydens die koortoer het ons in Ljubljana, die Sloweniese hoofstad, in ’n jeug-hostel gebly. ’n Interessante ervaring op sy eie… vir verskeie redes. Ek het in die voorportaal ’n gratis kaart van die stad gekry voor die dag se ekspedisie: alles is rondom die kasteel gebou (soos baie Europese stede, het ek agtergekom). Die argitektuur is oud en asemrowend. Daar is ’n kanaal wat deur die geboue reg rondom die verhewe kasteel in die middel loop. Die stad het dus baie brûe wat oor die kanaal loop ‒ kleintjies, grotes, oues en nuwes, op een punt selfs drie bymekaar, bekend as die Triple Bridge. Elke keer as ’n mens oor dié brug stap, is daar die een of ander trekklavier- of draaiorrelspeler wat met ’n oop en wagtende instrumentkassie die verbygaande toeriste vermaak.

’n Hele entjie weg van daardie drie, anderkant die vlooimark en die indrukwekkende St. Nicholas katedraal, is daar ’n brug met vier groot, groen drake: twee aan elke punt, weerskante van die pad.

IMG-20171124-WA0000Hulle is nie eers so indrukwekkend nie, as jy nou my eerlike opinie vra… Maar ek kan dalk effens bevooroordeeld wees, aangesien dit ons ’n halwe dag gevat het om die regte brug op te spoor.

Ons was selfs by ’n likeurwinkel in om te vra waar dit is, en die ou wat ons gehelp het was nie baie behulpsaam totdat ons een van elke spesiale geur alkohol gekoop het nie – blueberry, raspberry en die een of ander geel vrug. Die ‘samples’ wat hy in die straat uitgedeel het in klein wit koppies, was darem nie te sleg nie.

Al betekenis wat die drake eintlik het, volgens die likeurwinkel-outjie, is dat niemand presies weet hoekom die drake daar is, en wie hulle gebou het nie. Daar is baie stories en legendes rondom hulle, maar elke storie verskil. Nog nie een van die weergawes, so ver my kennis strek, kon bevestig word nie.

Wat maak hulle dan so spesiaal?

Soos ek sê, ek weet ook nie. Seker maar die misterie daaragter wat hulle ’n prominente toeriste-attraksie gemaak het, en ook die aangenome ‘beskermers’ van Ljubljana. Oor die jare heen het toeriste geteer op die geheim agter hierdie interessante, storie-lose groen drake (die groen is eintlik geroeste koper, het ons later uitgevind). Binnekort het hulle die simbool van die stad geword, en daar is draak-embleme of -temas betrokke by byna alles wat jy by die straatmark voor die katedraal kan koop: sleutelhouers, koffiebekers, opgestopte drake wat waarskynlik op menigte toeriste-kinders se kussings pryk, en vele meer.

20170711_100935Ek het nie enige iets vir myself gekoop in die vorige drie lande wat ons besoek het nie (behalwe die beloofde yskasmagnete vir my ma by die huis), en het dus al ’n hele paar Euro’s gespaar. In die Sloweniese straatmark het ek verby eindelose kurio’s en kunsgoedjies geloop, op soek na… iets. Net sommer iets wat my aan Slowenië sal herinner, en die mooi stad waardeur ek dalk nooit weer die voorreg sal hê om te loop nie.

Dis toe dat ek die stalletjie met die glasfiguurtjies sien.

Die man wat agter die stalletjie werk, het ’n vriendelike gesig gehad. Hy het my dadelik in sy vreemde taal gegroet, en oorgeslaan Engels toe.

“These are beautiful,” het ek vir hom gesê. Ek het verwys na die klein, fyn geblaasde glaskaraktertjies: miniatuurdiere soos slangetjies, tiere, paddas en pikkewyne vir 2 Euro, tot die groter, meerkleurige replikas vir 5 Euro of op, afhangend van die detail en die grootte. Dit was vir my mooi, hoewel ek dit seker op verskeie ander plekke in die wêreld en selfs in my eie land ook sou kon sien. Geblaasde glas is algemeen.

Maar by hierdie Sloweniese stalletjie het elke figuurtjie soos ’n kunswerk gelyk. Ek wou elke liewe een van naby af bekyk, so fyn was elkeen se ogies, armpies en lyfies gevorm… sonder enige foute of ongereeldheid in die blink, gladde tekstuur.

“Who made all these? You?” het ek gevra, met ’n klein pers-en-swart glas draaklyfie wat op my handpalm regop staan.

“My sister,” was die vriendelike man se antwoord. “She makes them, I sell them,” in daardie vreemde, maar aangename Sloweniese aksent.

Daar is ’n groter draak vir 5 Euro, wat blou en groen en meer gedetailleerd is. Om die een of ander rede is die kleiner, pers-en-swart krulstert enetjie op my hand egter iets wat ek net nie kan neersit nie. Hy is so klein, dit voel asof daar absoluut niks op my hand lê nie.

Om ’n draak aan te skaf, is blykbaar die ding om te doen. When in Slovenia…

“I’ll take this one, please,” in my beste Suid-Afrikaanse Engels.

Ek moes elke dag nadat ek hom gekoop het op die toer hom uit sy sorgvuldige verpakking uithaal ‒ verskeie lae tissues in ’n banksakkie ‒ om seker te maak die fyn, gewiglose draaklyfie van glas is nog heel.

Die draak het ’n ereplekkie op die rak in my koshuiskamer, in Potchefstroom. Ek het nog nie eers ‘n foto van hom geneem nie.

Ek ken nou nog nie die ware storie agter die Ljubljana-drake nie.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s