Oh Shenando’, I long to see you… in Croatia

Daar is enkele kere in my lewe wat ek al ondraaglik warm gekry het. En dit klink altyd dramaties as iemand praat van ‘die warmste wat hulle nog ooit gekry het’… Dis byna altyd ’n oordrywing.

Maar ek kan in alle eerlikheid sê waar ék, tot dusver in my amper-22 jare-lange lewe, dié warmste gekry het: Pula, aan die kus van Kroasië, in die somer.

20170711_174801Wat vreemd is, is die feit dat iewers later die aand wat ons in Pula aangekom het, dit nog gereën het ook. Het jy al ooit gevoel dat selfs die reën rondom jou warm is? In kombinasie met die hitte van die teer waarop jy staan? Dit voel letterlik soos badwater wat op jou val.

Oukei, nou oordryf ek so ’n klein bietjie. Maar weet net dat dit ongelooflik warm was toe die NWU PUK-Koor by hul hotel in Pula aangekom het. Die air-cons in die hotelkamers is DADELIK aangesit. Ek dink nie enige iemand het eers aan die warm krane in die stort geraak nie.

Niemand was eers lus om die koel heiligdom van die kamer te verlaat om by ’n restaurant ’n paar strate weg te gaan eet nie. Dis slegs die honger wat die vyf-en-veertig studente oorgehaal het om die laatmiddag-hitte weer aan te durf.

Toe ons by die bus uitgeklim het, het ons uit die aard van die saak reeds besluit om na ete in die see te gaan swem. Soos al die ander plekke wat ons tot dusver in Europa ervaar het, sak die son eers omtrent tien-uur die aand, so na aandete is dit nog lig buite. En dit was warm.

So, toe ons na ete ons swemklere aangetrek het en in die (nou reënerige) straat begin afstap, was ons opgewonde om 21:30 op pad te wees na ’n strand toe!

20170711_212714Dit was wel nie juivalkane-big (2)s ’n strand soos ons dit ken nie… Dit was meer soos ’n getypoel. Ons moes deur ’n omheinde park met hoë bome loop om daar te kom. Teen dié tyd was dit al donker, soos ’n mens kan sien uit die swak kwaliteit van die meegaande foto… (Die ander foto het ek van IstriaSun.com af gekry, net om jou ‘n idee te gee van hoe daardie wonderlike water waarin ons geswem het, in die daglig lyk). Maar hoewel ons nie meer regtig kon sien waar ons sou swem nie, het ons nie die (ver) pad deur Pula se strate vir niks geloop nie!

Ek dink ek was die derde of vierde mens in die water. Dit was koud, volgens sommige koorlede, maar hulle was duidelik nie gewoond aan die Kaapse see waar ek vandaan kom nie. Daar was branders, hoog genoeg om te geniet, maar nie erg genoeg om jou van jou voete af te slaan nie. Dit was taamlik klipperig, maar dis oukei ‒ ek was besig om te swem in Kroasië, my eerste keer in die Adriatiese (deel van die Meditereense) See!

Ek kan nie onthou wie begin het met ‘Shenandoah’ nie, of hoekom die persoon dit begin sing het nie. Dis een van ons gunstelinge in ons repertoire. Met optredes sing ons dit gewoonlik in sirkelsang, reg rondom die gehoor, vir wat ons dirigent ’n “surround-sound” effek noem. Aanvanklik is dit as humoristies bedoel, ’n grappie wat ek nou nie eers meer kan onthou nie. Dit was nie die hele koor nie, maar daar was genoeg van elke stemgroep om dit mooi te doen.Toe ons weer sien, in die branders van Pula se see, sing ons die hele liedjie voluit, tot aan die einde, terwyl ons saam met die golwe wieg…

Dit was een van die mees onvergeetlike oomblikke in my hele koorloopbaan.

Ek deel hier die video van die koor se weergawe van die liedjie. Ons het dit by ons Musica Koorfees aan die begin van die jaar gesing, onbewus van al die avonture wat nog vir ons voorgelê het. Toe het ons dit nog nie eers so goed gesing nie, in my opinie.

Ek wens daar was ’n weergawe van hoe ons dit ná ons Europese toer gesing het… Lank nadat dit in eggo’s van koorstemme oor die branders van die Adriatiese see in die maanlig, elf-uur die aand, gesing is.

Advertisements

One Comment Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s