My Eerste Wafel

Ek vra nou al om verskoning. Die titel is ’n bietjie misleidend. Ek het al wafels geëet. Baie van hulle: die Wimpy s’n, die tuisgemaaktes wat my pa soms in so ’n wafel-toaster-masjien ding op Sondae gemaak het (ek dink nie ons het hom eers meer nie), en by ander restaurante in verskeie dele van Suid-Afrika.

Maar vroeg in Junie 2017 het ek geleer dat daar wafels is… en dan is daar WAFELS. Nederlandse wafels. In ’n Nederlandse aksent. Wafels wat as iets besonders geag word deur die inwoners van die land én die toeriste wat hulle (ten duurste) koop. Wafels wat net-net meer van ’n goudbruin kleur, meer van ’n krakerige buitekant en smullekker warm, soet en sagte binnekant het as die wafels waaraan jy gewoond is.

Eenvoudig gestel, ’n egte Nederlandse wafel is onverbeterlik. Daar bestaan nie meer ander wafels vir my nie.

20170630_160725Die heel eerste dorp wat die koor besoek het op ons oorsese toer, nadat ons by Airport Schiphol in Amsterdam in Nederland geland het, was Utrecht. Dit was my heel eerste blootstelling aan die outydse, op-mekaar-boustyl van die Europese argitektuur, en ek was absoluut mal daaroor. Nie net was die strate nou en op sommige plekke geplavei nie, maar die steengeboue en blou-en-wit-straatnaambordjies het die hele gevoel van ’n klein Nederlandse dorpie perfek weergegee. Eie aan Europa is daar ook natuurlik ’n kanaal wat regdeur die dorp vloei. Ons was in ’n ouer deel van die stad, maar dit is in elk geval die beste deel waar ons kon wees.

20170630_160949

Daar was natuurlik fietse, orals… Ons het menigte kere in die pad van ’n paar gekom, en is met mening uit die pad gejaag deur die skril fietsklokkies wat eers teen die vierde of vyfde keer bekend begin raak het. Dit was nadat ons agtergekom het daar is ’n aparte baan vir fietse, langs die voetgangers se deel van die straat.

Nog ’n opvallende ding was die aantal jongmense wat ons met hulle fietsklokkies uit die pad gejaag het. Almal rondom ons eie ouderdom. Die meer ingeligtes in ons geselskap sê toe dat hierdie eintlik ’n studentedorp is, veral die deel waarin ons was wat rondom die universiteit gebou is. So, dit was amper soos Potchefstroom… Maar net baie, BAIE anders. Soos jy jou seker kan indink.

20170630_161045Terug by die wafels. Ons het hulle gekoop nadat ons die groot Dom-kerk en kerkplein besoek het (toe het ons nog báie foto’s geneem ‒ dit was die eerste van báie indrukwekkende kerke wat ons op ons toer sou raakloop). In die straat af was daar ’n aantal koffiewinkels en restaurantjies. Ek het geen ander begeerte gehad as om net daar by een van die tafeltjies in die straat te gaan sit en die atmosfeer van die wonderlike, lewendige (maar tog amper meer plattelandse) stad in te neem nie… Maar daarvoor het ons nie tyd gehad nie. Ek was saam met omtrent vyf ander koorlede, en hulle elkeen koop toe vir hulle ’n wafel by die een winkeltjie. Dit sou die eerste Euro’s wees wat ek op my nuwe ABSA Cash Passport sou uitgee, maar ek het dit met ’n groot glimlag betaal.

20170630_165642Daar was net versiersuiker op. Soos ’n wafel móét wees. Ek het die vars, goudbruin wafel met die grootste tevredenheid geëet, en dit was die beste inleiding tot Nederland, én Europa, waarvoor ek kon gevra het. In daardie mooi, besige straatjie agter die kerk.

Ek was skoon teleurgesteld toe ons later weer op die bus moes klim, nadat ons deur menigte strate geloop het en die kleinste koppie koffie en lekkerste blokkie sjokolade gekoop het wat ek al vir daardie aantal geld teëgekom het.

Ek wou in alle erns eendag in Utrecht kom woon. Nie die eksotiese, algemene droom om in Italië of Kroasië te bly nie, maar ’n egte aangetrokkenheid tot die rustigheid en atmosfeer van die Nederlandse stad. Miskien is daar ’n interessante graad wat ek eendag by Utrecht Universteit kan gaan studeer.

Daardie wafel was, nou dat ek daaraan dink, werklik die laaste wafel wat ek tot dusver geëet het… En hoewel dit eintlik suiwer toeval is, sien ek dit beslis as ’n teken.

Koop jou wafels in Nederland.

P.S.: As jy koffie wil koop in Nederland, soek vir ’n bordjie wat sê “Café”. Moet NIE by ’n “Coffe Shop” instap vir daardie doel nie. Tensy jy dit doelbewus wil doen. Google dit as jy nie verstaan nie.

20170630_173455

Advertisements

2 Comments Add yours

  1. Utrecht is absoluut die plek om te wees…
    Love die post script 😂

    Like

  2. anmarifouche says:

    Ek verstaan absoluut jou verwondering oor die dorpe en paaie en daardie Sprokieswêreld atmosfeer! Ek gaan vir 4 dae Amsterdam toe net na Nuwejaar en wil ‘n daguitstappie doen Utrecht toe. Sal jou raad gaan volg en probeer om daai plekkie op te spoor vir ‘n wafel! Maar ek moet sê die Noord-Frankrykse wafels (met ‘n sterk Belgiese invloed) is self nie te versmaai nie, hoor 😜 Sal terugraporteer as ek altwee probeer het.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s