Varke, Vriende en Verskriklike Mis

 

Die Amatola-staproete by Hogsback, Oos-Kaap, is ’n 10-uit-10. Dit verwys, let wel, na hoe moeilik dit is. Met ander woorde, dis die moeilikste moeilik wat ’n staproete kan wees. Dit is nou volgens die een of ander webtuiste wat een van die lede van ons stapgeselskap gegoogle het, so ek weet nie hoe akkuraat dit is nie… Maar ek dink dis veilig om te sê dat die roete een van die moeilikste, indien nie dié moeilikste nie, in Suid-Afrika is. En ek het die groot voorreg (nie sarkasties bedoel nie, belowe) gehad om die Amatola vanaf 15 tot 20 Desember 2017 saam met sestien ander (vermoedelik fikser as ek) studente te stap.

IMG-20171223-WA0003Die roete is altesaam 100 km, loop oor 3 bergpieke, strek oor 6 dae en behels 6 hutte met verskillende grade van gerieflikheid. Soos met enige staptoer, was dit heeltemal vrywillig. Ek het dit geniet om bietjie afgesny te word van die menslike beskawing, nie regtig om te gee oor die datum of dag van die week nie, en om daagliks net een doel in gedagte te hê: oorlewing tot by die volgende hut.

Ek waarsku wel vooraf, hierdie is ‘n lang blog oor ‘n lang staproete. So as jy die volle reis-ervaring wil hê, lees hom dag vir dag as jy wil.

(Foto’s onderskeidelik geneem deur Niel Oberholzer, Arnold Pretorius, Christelle Els, Jaco Linde en die uwe).

14 Desember ‒ Aankoms by die Feetjie-backpackers in Hogsback

ALLES in Hogsback het ’n Lord of the Rings tema. JRR Tolkien het volgens legende die inspirasie vir sy wêreldbekende reeks boeke gekry in hierdie einste Hogsback-omgewing en berge. So, by die Away With the Fairies Backpackers was “Elrond’s Blessing” teen die muur geverf om ons sterkte toe te wens met die staptog, daar is ’n lodge in die dorp met die naam Strider’s, daar is ’n Rivendell’s House of Healing verder af in die straat af waar daar allerhande interessante dienste soos Shadow Energy Alignment en Tarot Card Reading is… Iewers tussen dag 3 en 4 van die staproete het ons ook eerstehands ervaar waar Tolkien se idee van die Misty Mountains vandaan gekom het.

IMG-20171227-WA0013Away With the Fairies is alles wat stereotipies is aan ’n backpackers wat meestal in die bos is, afgesny van die samelewing en onbereikbaar tensy jou GPS grondpaaie optel. Om die waarheid te sê is die hele Hogsback eintlik so. Ek kan nie agterkom presies waar die dorp lê tussen die bome nie. Dis veiliger om te sê die algemene area is Hogsback. In die tyd wat ons daar was, het ons menigte uitlanders en mense wat lyk of hulle reguit uit die interessante fase van die 1970’s kom, gesien. Die mure van die geboue is almal met die hand geverf, oortrek met feetjies, dwergies, paddastoele en sterpatrone… Ons het in die donker daar aangekom, toe die “fairy lights” en kampvuur op hulle mooiste was. Die plek het ’n mistieke, hoewel bietjie hippie-agtige, atmosfeer gehad.

IMG-20171227-WA0011Ons het onmiddellik pizza’s bestel. Away With the Fairies is bekend vir twee dinge: hulle “cliff bath”, ’n bad wat uitkyk oor die hele Hogsback vallei en bergreeks, en hulle pizza’s. Dit sou ook die laaste ordentlike, lekker ete wees voor ons die volgende dag met die groot staptog in die berg in begin.

Dag 1 ‒ Die “Rustige Dag”

Ek besluit nou nog of Away With the Fairies se mense uiters goed of uiters roekeloos bestuur met die drie voertuie waarmee hulle ons en ons rugsakke vervoer het. Ek dink nie daar is baie karre op die pad in Hogsback wat hulle normaalweg in ag hoef te neem nie. In elk geval, ons het (taamlik vinnig) die oggend van 15 Desember tot by die beginpunt van die Amatola buite King Williams Town gery. Daar het Dan, die eienaar van die backpackers, vir ons die hele ses dae se roete verduidelik en vir ons ’n paar kaarte gegee om ons te help indien ons verdwaal.

IMG-20171223-WA0010Na die klassieke “before”-foto voor die bordjie by die roete se beginpunt, het ons in die pad geval. Hierdie dag sou die rustigste van die ses dae wees, so ons het nie veel verwag nie ­­‒ maar dit het ’n goeie voorsmaak gegee van hoekom hierdie die moeilikste roete in die land is, aangesien dit glad nie so rustig gevoel het soos wat Dan ons vertel het nie. Dit was meestal inheemse reënwoude: pragtige groen bome en bosse, varings en mosse teen klippe, maar dit was taamlik uitputtend. ’n Goeie “opwarmer” vir die res van die roete. Dit was 13 km vir die dag, en ons was baie bly toe ons by Gwili Gwili Hut, ons eerste stop, uitkom.

By die hut was daar ’n donkie, maar baie was nie bereid om te wag tot hy gestook word nie en het sommer koud (ýskoud) gestort. Daar was ’n paar spinnekoppe betrokke by die stortsessies. Verder was daar ’n long-drop en een sementwasbak as fasiliteite, so ons egte bos-ervaring het nou amptelik begin.

Daar was ’n paartjie wat blykbaar net voor ons aan die roete begin stap het, maar wat die oggend al gehaal moes geword het omdat die man se knieë opgepak het (blykbaar ’n algemene verskynsel op dié roete). Hy was ’n Nederlander, en sy meisie Suid-Afrikaans. Hulle het maar ’n rukkie saam met ons gekuier totdat Dan-hulle met die laaste drie lede van ons stapgroep en ook ons kos vir die aand opgedaag het.

So, indien een van ons iets oorkom, sou hulle ons darem kan kom haal. Maar daar is ’n R1000 “extraction fee”, en ons is almal arm studente…

My gunsteling oomblik van die hele staptoer het reeds op die eerste aand gebeur. Daar is ’n stel trappe agter die hut wat na ’n piekniektafel op ’n dek-tipe plat stukkie teen die berg lei. Daar het omtrent al sewentien van ons (na ons smaaklike aandete van gebraaide wors, smash en geblikte tamatie-en-uie) die aand gaan sit en gesels. Mense waarvan sommiges mekaar baie goed ken, en waarvan party mekaar nog glad nie eers ken nie. Ons het ’n uitsig oor ’n groot stuk van die vallei gehad, met helder geel liggies wat uit die klein dorpies, groepies huisies en plakkerskampe skyn. Bo ons was daar net sterre… Dit was seker die gebrek aan elektrisiteit by die hut, maar dit was die meeste sterre wat ek nog ooit op een slag so in ’n oopgetrekte lug kon sien. Dit was so helder, daar was seker elke twee minute ’n verskietende ster te sien. Met die mense rondom my, en die duisende liggies ver van ons wat in die donker gesit het, het ek ’n ware sin van tevredenheid en blydskap gevoel. Dit was ’n goeie oomblik.

Ek het al ons name in die besoekersboek op die houttafel binne-in die hut geskryf. Dit was interessant om te sien hoe positief elkeen van die vorige besoekers nog was na die eerste dag.

Dag 2 ‒ Die Erger Dag

Hierdie gedeelte is bietjie opiniegedrewe. Ek gaan eerlik wees en sê ek kan nie eers die besonderhede van hierdie dag onthou nie, want dit was vir my ’n moeilike enetjie. Ek was net-net te moeg en my voete net-net te seer teen die einde van hierdie dag, al was dit steeds nie waar die moeilikste deel van die roete begin het nie. Dit was steeds in die bos, met enkele denneboomplantasies teen die einde. Die afstand is veronderstel om 18 of 19 km te wees, maar omdat ons verdwaal het en ’n hele ekstra stukkie moes loop, was dit meer iets soos 22 km.

Die roete, het ons agtergekom, is taamlik gekompliseerd, met alternatiewe afdraaie en “loop trails” soos deur die kaart aangedui. Vat jy per ongeluk ’n verkeerde afdraai, is jy in die moeilikheid. Of jy gaan eers ná donker by die volgende hut kom.

Ons het die waarde van ’n varswater kraan besef toe ons die watervalroete wou neem, wat eintlik langer sou vat, omdat ons water besig was om op te raak. Op pad soontoe moes ons deur ’n hek klim en verby ’n huis stap, en ons was verheug om ’n kraan reg agter die huis te sien! Ek dink nie ek het al ooit beleef hoe so ’n groep mense só bly kon wees oor iets so eenvoudig soos ’n kraan nie.

20171216_125701Oor die verdwaal-storie sal ek net dit sê: ons het naderhand geleer die geel voetjies wat die roete aandui is altyd reg, en die kaart waarop ons aan die begin van die staptoer soveel van ons hoop en vertroue geplaas het, dateer uit 1988 uit. Nie baie gerusstellend nie.

Maar ons het wel in een stuk en steeds positief by Dontsa Hut uitgekom, lank voor donker. Daar het ek die slegste stort van my lewe gehad, en ek is al gewoond aan staproetes. Die donkie het nie gewerk nie, en net twee straaltjies van die stortkop het, teen baie lae druk, gewerk. Die toilet was ’n halwe kilometer weg van die hut af, en dit was ’n waagstuk om alleen in die donker badkamer toe te gaan… En dit het ook begin reën op ’n stadium. Ons het wel baie lekker geëet ‒ steaks, murgpampoentjies en cous-cous ‒ en vroeg in die bed geklim. Dis een van die aande wat ek dié lekkerste geslaap het.

Dag 3 ‒ Die “Klim-dag”

Ek het nog nie veel van die mense op die staptoer gesê nie, maar slegs omdat hulle eintlik ’n hele blog-inskrywing van hulle eie vereis. Dit is sewentien van die mees diverse, ongelooflikste mense wat ’n mens as geselskap kan hê. Ek is bevoorreg om hulle, veral na die stap, my vriende te kan noem. Ons het onder andere ’n gekwalifiseerde biokinetikus onder ons gehad, wat almal se seer spiere in die aande rondom die vuur kon uitvryf, ’n halwe apteker wat ’n pil vir elke kwaal gehad het, ’n aktuaris wat volgende jaar vir OutSurance se bemarkingspan gaan werk, ’n aspirerende joernalis (raai wie?), ’n toekomstige dokumentêre video-student, ’n teoloog en verskeie ingenieurs. Daar is ook ’n lewendige Sêr-sanger (een van die ingenieurs) wat ons sommige oggende, vanoggend, kom wakkermaak het in die onderskeie kamers. Ons het hom later gevra of hy die meisies sal kom wakkersing. Hy was toevallig een van die min oggendmense wat daar op die stap teenwoordig was.

20171217_081422Ons was reeds bietjie seer en moeg toe ons elkeen ons porsie oats vir ontbyt geëet het. Vandag is, volgens Dan en die 1988-kaart, die ergste dag wat vertikale klim behels. En ons het sommer vinnig agtergekom wat hy bedoel het. Dit het by tye maar stadig gegaan om die steiltes deur die woude en klippe en tot bo-op die berg te klim, maar dit was eintlik op ’n manier… lekker. Dit was, om die waarheid te sê, die lekkerste dag sover. Asof ons lywe, met die swaar rugsakke op ons rûe, nou al gewoond was aan die uiterste inspanning. Die dag was eintlik ’n goeie uitdaging. Die uitsigte van bo-op die berg was beslis ook die moeite werd.

Ons het in inheemse bos in die klowe gestap, en in meer veld-agtige plante bo-op die berg waar ’n wit laag mis al hoe meer oor die pragtige uitsigte begin saampak het. Middagete was by ’n waterval en varswaterpoel in die woud, en daarna het die groepe stappers effens begin opbreek… Dit het nie veel gehelp toe ons, vir die tweede dag in ’n ry, agterkom ons is dalk op die verkeerde pad nie. Of altans, een of meer van die vier verskeie groepe was op die verkeerde pad. Teen hierdie tyd het ons deur ’n bosbou-area gestap met afegekapte bome orals om ons saam met die reuk van nat hout in die mis wat nou al dig rondom ons gevorm het.

Ons het ons byna doodgeskrik toe daar van iewers in die wolk, waarbínne ons was, donderweer begin kom.

Omdat ons die hoogste voorwerpe in die landskap van afgekapte denneboomstompe was, het ons vinnig begin stap na die begin van die woud wat voor ons in die verte sigbaar was ‒ net vir ingeval. Vandaar het ons die regte pad gesoek, op ’n stadium die geel voetjies agterstevoor om gevolg, toe weer reg om, toe begin ons lede van die ander groep bel om te hoor waar hulle is… Op die ou end was ons groepie die minste verdwaalde een van die lot, en moes ons net reguit aan geloop het met die pad. Tydens die verdwaalsessie het dit egter begin reën, so dit het die gemoedere tydens die laaste paar kilometers net so ’n bietjie gedemp.

By Cata Hut, een van die beter hutte van die lot (spoeltoilette en ’n donkie, alhoewel ons hom nie in die reën kon stook nie), het almal maar binne gebly om van die aanhoudende misreën te skuil. Ons kon maar slegs bespiegel oor die mooi uitsig wat ons sóú gesien het, indien dit oopgetrek was en ons die hele berg en vallei onder ons kon sien. Daar was wel ’n baie lekker afdak-kuierarea met ’n kaggel en lang tafels, so ons kon darem ons aandete van botterskors, steak en knoffelbrood met smaak in ’n droë omgewing geniet. Ons het vroeg gaan slaap in die hout, Heidi-in-die-berge-styl hut, en gehoop die reën klaar op sodat ons teen die volgende dag dalk ons vuil klere in die son kan hang.

Dag 4 ‒ Mis, Sweet en Trane

Die reën het nie opgeklaar gedurende die nag nie. Ons moes 6-uur, toe ons begin stap het, die “emergency” reënponcho’s en jasse uithaal, seile oor ons sakke trek (ek het selfs ’n swartsak bo-oor myne getrek vir ekstra sekerheid) en met klam klere en sokkies in die pad val. Dit was nie lank nie, of álles was nat en mismoedig… Skoene, gesigte, hare en gevoelens. Ons het oor die berg geklim, so daar was nie soveel bos soos die eerste paar dae nie, en as die wind gewaai het, was dit ’n ysskok wat nat en koud deur jou dun poncho gesny het… Verder moes ons nog oor gevaarlike klippe en kranse klim. Daar was ’n baie lukrake strook reuse klippe waaroor ons moes klim, in ’n baie gladde staat weens die weer. Inspanning tesame met die spanning. Ons het die plek Speckled Egg Valley genoem, vir ooglopende redes. Iewers het iemand kommentaar gelewer dat hulle nie kon agterkom of die nattigheid op hulle gesigte die mis, sweet of trane was nie.

IMG-20171223-WA0000Die hele dag lank was weereens ’n geval van wonderlike uitsigte wat ons sóú gesien het indien ons nie slegs wit mis by die steil kranse langs ons af kon sien nie. Maar hier en daar, waar die mis nou en dan oopgetrek het, het ons die mooiste watervalle en Europa-agtige riviere gesien. En baie koeie.

Toe kom die reënwoud gedeelte waar ons vreeslik baie keer oor dieselfde rivier gezig-zag het. Ons was nie baie beïndruk nie, aangesien dit beteken het ons moes elke keer oor die sterk strome klim. Ons was baie dankbaar toe ons na omtrent 11 km die Mnyameni Hut in die mis sien opduik.

Ons was effens teleurgesteld toe ons binne die hut kom. Uit die ses deurkosyne, was daar slegs drie deure. Ons vermoed vorige stappers het dit dalk as brandhout gebruik, aangesien al die gekapte hout onder hut sopnat en onbruikbaar was. Die donkie was weereens ’n buite-werking een, en die stort was KOUD. Ons het onsself beter laat voel deur droeë klere aan te trek, koffie te drink en Mafia, Black Magic en verskeie ander speletjies in een van die deurlose kamers te speel, terwyl die aand se biltong-pasta op die gasstofies gemaak is.

Daar was ook te min matrasse, so die ouens en meisies moes onderskeidelik hulle eie krismisbeddens in die aparte kamers maak. Dit was interessant om die laatnaggesprekke so tussen die oop lokale oor en weer te luister.

Dag 5 ‒ Waar is die son?

Dit was letterlik een van die grootste oomblikke van ongetemde vreugde toe die son die volgende oggend die mis laat ooptrek het. Net vir ’n paar oomblikke ‒ dit was wonderlik! ‒ het die stapgeselskap op die stoep gestaan en kyk na die goue, ronde bal in die lug wat ’n mens eintlik so maklik elke dag as vanselfsprekend aanvaar.

Daar is hier en daar mense met GoPro’s, en ’n paar wat onthou het om soms foto’s van die mense en die uitsigte op hul fone te neem, maar hierdie oggend het ons opsetlik gepoog om ’n ordentlike groepsfoto te neem. Toe ons begin stap, was daar tot ons spyt nóg ’n paar rivier-oorgange, maar darem geen beserings nie. Dis op hierdie stadium van die stap wat ons begin besef het hoe bevoorreg ons is om nog nie een besering of selfs ’n geswikte enkel te gekry het nie, siende dat die groep voor én na ons sover op die roete “extract” moes word weens kniebeserings. Ons kon dit moontlik toeskryf aan die manier hoe ons mekaar deurlopend gehelp het op die roete, gewaarsku het wanneer daar gladde dele is, en die beste roetes probeer volg het.

Dit het alweer begin mistig raak soos wat ons (alweer) met ’n stewige opdraande teen die berg uit is. Ek het vir die eerste keer in ’n lang tyd my gemiddelde mate van hoogtevrees aangevoel toe ons op ’n nou en gladde paadjie teen die kant van die berg moes loop, met niks anders as steil afgronde en kranse langs jou en ’n swaar sak op jou rug wat heeltyd voel of hy jou van die paadjie af wil gooi nie… Ek het dit wel oorleef.

IMG-20171227-WA0003Ons het op ’n stadium deur pragtige groen stukke weivelde (ja, daar was ook koeie) en ’n paar verspreide dennebome geloop, wat my baie herinner het aan ’n “English countryside” of ’n Europese landgoed. Ons het ’n “snack-break” by ’n helder klipperige watervalletjie geniet, wat uit ’n prentjiemooi stroompie deur die groen landskap vloei. Daar het ek weereens sommer met my skoene deur die rivier gestap, om van die dik lag modder wat ek met die staptog by die berg op versamel het ontslae te raak.

IMG_20171224_172908_433Middagete was onder ’n koelteboom in ’n kloof, toe die mis reeds weggetrek het. Dit was die mooiste gesig: helderblou lug bo ’n groen, vreedsame bergkloof en rivier. Ons het van die bekende swartarende van die omgewing sien sweef bokant die kranse (ons dink dit was swartarende?). Behalwe vir hierdie mooi kloof, een van my gunsteling plekke van die hele staptoer, was daar talle asemrowende watervalle en swembare rotspoele. Daar was ’n uitkykpunt naby aan die einde wat op ’n reuse klip teen die berghang was, en hoewel my hoogtevrees weer ’n klein bietjie hier na vore getree het (ek moes kruip oor die rots), kon ons kilometers ver sien oor die vallei wat ons enkele dae terug vanaf ’n hele ander hoek by Gwili Gwili Hut bekyk het.

20171219_150348Die laaste stukkie tot by Zingcucka Hut het langer gevoel as wat ons verwag het, hoewel dit weer in die (nou al bekende) inheemse bosomgewing was. Middagslapies is geneem, terwyl daar weer ’n paar was wat die koue stort en long-drop aangedurf het. Die hut was egter beslis een van die mooistes: daar was ’n oop stukkie in die middel van die hut, soos ’n stoep, wat uitkyk oor ’n oopte in die bos waar jy die paddas in die aand kon hoor raas. Ons smaaklike tuna-en-rys en sweetcorn aandete was danksy ’n “food-drop” van Away With the Fairies se mense, tesame met ’n Savannah (vir die meisies) en ’n Windhoek Draught (vir die ouens) wat ons as ’n bederfie by die backpackers se kroeg bestel het. Ek is nie eers so ’n groot fan van Savannah Dry nie, maar nog nooit het ’n koue cider vir my só lekker gesmaak nie…

Ons was teen hierdie tyd lankal gewoond aan die vroeg slaap, vroeg opstaan roetine. My hart was sommer al seer oor die staptoer amper verby was…

Dag 6 ‒ Die Eintlike Klim-dag

Hulle het vir ons gelieg oor die laaste dag. Of eintlik nie gelieg nie, ons het seker maar net aangeneem dat die laaste 15 km van die roete wat ons op die laaste dag sou loop nie so erg sou wees nie, dat dit net ’n afdraande paadjie tot by die eindpunt sou wees.

Dit was nie.

Dit was, en hierdie sluit dag 3 in, dié ergste klimsessie van die hele roete. Nie net was ons liggame en gemoedere moeg nie, maar die mense wat die paadjie gemaak het, het blykbaar besluit al die mense wat hierdie paadjie stap sal sommer aan die begin al DIE HELE PAD OP KLIM. Die eerste gedeelte was net woud, en steil klim, toe is dit ooptes (in die son!) ook klim, en toe zig-zag ons by die laaste bergkop, Hog 1, op dat die sweet ons aftap en ons later begin wonder of ons ooit die bokant sal sien. Ons het die afgelope paar dae, toe ons nog in die mis was, verby Hog 3 en Hog 2 geklim, en Hog 1 was die laaste doel van die ses dae. Die drie “hogs”, of varke, is waar die bergreeks en area die naam Hogsback vandaan gekry het (sien die foto van die “cliff bath” boontoe). Ons het vir ’n volle uur (of was dit twee?) letterlik dieselfde uitsig gesien. Dit was wel ’n pragtige uitsig, en absoluut die moeite werd, maar na ’n rukkie was ons regtig nie meer lus om daarna te kyk nie.

IMG-20171223-WA0002Ons was baie dankbaar toe ons oor die piek van die berg klim, en ’n vroeë middagete in die skadu van die boonste rotspunt van die berg kon geniet. Daarna het ons al langs die rand beweeg, net om toe weer af, af en af by die berg te daal… En toe die ander kant van die berg se uitsig vir ’n uur lank te aanskou. Weereens pragtig, maar ek het nogal saamgestem met een van die meisies wat naby my gestap het toe haar kêrel die soveelste keer die mooi view vir haar uitwys: “Ek soek nie ’n d**n*erse view nie, ek soek ’n burger!”

Van die praatjies op die pad het natuurlik gedraai om die wonderlike aandete wat ons daardie aand sou hê.

25659269_1696545737032937_1106523078259048579_nDeur ’n denneplantasie, en nog ’n bietjie bos, kon ons breek by ’n mooi groot waterval wat duidelik al nader aan die grond en die menslike beskawing in Hogsback was. My knieë was dood. Ek was op ’n stadium regtig bekommerd dat daar ’n spier iewers rondom hulle getrek het, of dat die kraakbeen begin probleme gee het. Maar hulle was net moeg, soos die res van my lyf. ’n Spontane stuk erg-moeilike afdraande, met klippe en steiltes wat half as ’n herinnering gedien aan al die erge dinge wat ons al op die staptoer ervaar het, het op die waterval gevolg, maar net voor ons is ’n fietsryer by dieselfde paadjie af ‒ mét sy fiets. So ons sou sleg gevoel het indien ons dit nie reggekry het nie.

IMG-20171227-WA0006Ons het gedink ons het nog drie kilo’s oor. Maar toe kom die eindpunt, heel onverwags: ’n groen bordjie aan die einde van die geel voete wat sê dat ons die Amatola staproete klaargemaak het! Dadelik het ons met nuwe energie eindpunt-foto’s geneem, en toe onder die skadubome gaan sit om te wag vir die vier voorste ouens wat die karre by die backpackers gaan haal het om ons op te laai. Net een ou (die biokinetikus, toevallig) het besluit om die laaste vier kilo’s tot in Hogsback en tot by Away With the Fairies te stap. ’n Beter mens as die res van ons, seker maar. Ons was wel dankbaar om by die backpackers te kom, weer mense te sien, weer dadelik-warm storte te hê… En ook ’n ordentlike bed.

IMG-20171227-WA0008Ons het sjokolade, chips en koeldrank by die kroeg gekoop, sommiges selfs iets sterkers ‒ welverdiend. Vir ’n lang ruk, tydens die wagtyd vir die handvol storte, het ons op die groen gras buite gesit, en gekyk vir die baie hoë berg waaroor ons nog net vanoggend dwarsoor geklim het…

IMG_20171224_172908_434Die aand het ons uitgegaan. Daar is nie veel in Hogsback nie, maar ons het die lekkerste pizza en burgers geëet by die Lighthouse Restaurant. Ons was goeie besigheid vir hulle: sewentien honger studente, nou net terug van ’n ses-dag staptoer. Ons het selfs ’n bietjie op hulle beperkte spasies tussen die tafels op Afrikaanse musiek gesokkie!

Daarna is ons langsaan na ’n ander kuierplek toe. Daar het ons “fines” uitgedeel, lekker gesels, en verstaanbaar vroeg weer teruggekeer backpackers toe om te slaap.

Dit was ’n goeie ses dae in die ongerepte natuur. Die moeilikste staproete in Suid-Afrika (volgens beweringe) en ons was bevoorreg genoeg om nie een besering op te doen nie. Ons het ’n wegbreek van die wêreld gekry. Geen bekommernisse oor volgende jaar op Potchefstroom nie, die nuwe pers kleur van ons universiteit of die nuwe president van die ANC nie, die voorbereidings wat getref moet word vir akademie en toneeltekste en koshuis-dinge nie… Net natuur. Net bos. Net mooi en groen en goeie vriende om dit mee te deel.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s