‘n Straat-sokkie in Duitsland

Neuses, Freigericht, is ’n doodgewone Duitse dorpie. Waar die inwoners nog brood by die bakkery gaan koop en die kerktoring in die middel van die dorp uitstaan. Dit was een van my gunsteling plekke van ons hele koortoer, omdat dit so anders was: ’n plattelandse dorpie weg van die meeste kommersiële toerismebedrywighede.

IMG-20170704-WA0017

My eerste ervaring van Duitsers was dat hulle effens ongeskik is. Of dalk net bietjie sku teenoor uitlanders, veral ons wat darem maar té naby aan Nederlands klink… Maar, nadat ons met die grootste gasvryheid en lekkerste onuitspreekbare Duitse kos ontvang is, het ek gou my siening oor hulle verander. ’n Mens moet hulle eers leer ken, hul vertroue wen ‒ en ook, blykbaar, vir hulle mooi koormusiek sing. Dit help.

19642275_1228723270589365_6578971168540525439_nDie skoolsaal waar ons gesing het, was só warm dat hulle die buitedeure aan die agterkant van die verhoog moes oophou. Daar het darem ’n skraal windjie deurgewaai wat ons in ons warm koordrag kon afkoel. Maar dit was als die moeite werd toe ons die tradisionele Duitse liedjie, “In Einem Kühlen Grunde”, aan die einde van ons repertoire sing (ons het spesiaal ten minste een tradisionele liedjie van elke land wat ons sou besoek, aangeleer). Die Duitsers van Neuses was mal daaroor.

20170704_081832Die huis waar ek gebly het was aan die rand van die dorpie. Ek en my “toera” was gelukkig genoeg om een van die drie Duitssprekendes in die koor saam met ons uitgeplaas te hê, wat die gesprekke met ons suiwer-Duitse gasouers aan die ontbyttafel aansienlik makliker gemaak het. Uit die twee “sky-light” vensters van ons woonstelletjie kon ons die pragtige groen landerye en heuwels sien… Neuses was ’n entjie weg van ander dorpe, so dit het gevoel soos ’n regte Duitse plattelandse ervaring.

Die afskeidsfunksie wat vir ons gereël is, het net buite die stadsaal plaasgevind. Of die kerksaal… ek is nie heeltemal seker nie. Hulle was die eerste Europeërs wat vir ons gebraai het! Steak en wors. Nie heeltemal boerewors nie, maar dit was hemels. Op hierdie selfde geleentheid het ek vir die eerste keer ’n Weiß-bier gedrink (dis nie ’n Wiskundige B nie, dis ’n dubbel-S. Ek het dinge geleer in Duitsland).

19665554_1229353333859692_8282016937778369142_nOns het ook vinnig agtergekom dat Duitsers hóú van kuier! Dit was ’n plesierige aand, al het net drie of vier van ons ten volle verstaan waaroor die gesprekke gaan. Daar was nie veel meer om te verken van die dorpie nie, maar die inwoners het ons darem so ’n paar strate af laat stap om na hulle kraal vol llamas te gaan kyk. Jip.

Daarna het een van die mal Potch-studente in die koor besluit dis tyd vir sokkie. Iemand se foon is op die een of ander manier aan ’n speaker gekoppel, en die volgende oomblik dans ons, net daar in die nou straatjie van Neuses, Duitsland. Behalwe vir ’n paar vreemde kyke van verbygaande motoriste, het selfs ons nuwe Duitse vriende dit ook geniet. Dit was werklik ’n fees. Ek wou ‘n video daarvan aanheg, maar blykbaar is ek op die verkeerde WordPress-plan daarvoor…

Die klein-dorpie atmosfeer van Neuses en die mense se waardering vir ons koormusiek was iets wat ek altyd sal onthou. Om hulle kultuur te beleef en op watter maniere dit verskil van ons s’n, was ook ’n besonderse ervaring. Dis een van die redes hoekom ek eendag graag weer na Europa sal wil terugkeer. Sodra ek kan.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s