‘n Aanlyn-storie oor Rabada se skorsing

Ek is nie normaalweg die grootste sport-aanhanger nie, so dis selfs vir my ‘n vreemde ervaring om hierdie te tik. Maar die doel van dié plasing is eintlik om ‘n baie interessante vorm van joernalistiek voor te stel: ‘curation and aggregation’ (ek dink nie die Afrikaans klink so goed nie. Kurasie? Aggregasie?). Dit behels die gebruik van menigte bronskakels om ‘n storie oor een onderwerp te skryf – die voorbeeld wat ek gebruik het, is die Suid-Afrikaanse bouler Kagiso Rabada se skorsing tydens die toetskrieketreeks tussen Australië.

Let wel: sy straf is intussen ligter gemaak, en hy is toe wel toegelaat om in die volgende twee toetse te speel (jy het hom dalk al laas naweek op Nuweland se veld op die TV gesien). Dié aanlynstorie het ek egter geskryf net nadat hy geskors was, op 13 Maart. Moet dus asseblief nie my joernalistieke kennis in twyfel trek as gevolg van die nuustydigheid nie… Maar geniet gerus die ‘curation’ wat ek toegepas het om oor sy skorsing te berig.

Sien nog voorbeelde van hierdie tipe nuusstories op Storify. Party mense doen hierdie vir ‘n lewe!


 

SPELER-VAN-DIE-WEDSTRYD GESKORS

13 Maart 2018 – Rouxné van der Westhuizen

Kagiso Rabada, Protea-snelbouler, is geskors vir die volgende twee toetswedstryde teen Australië nadat hy skuldig bevind is vir ’n vlak-twee oortreding van die Internasionale Krieketraad (ICC) gedragskode. Hy is vroeër dieselfde dag as Speler-van-die-wedstryd aangewys ná sy puik boulwerk wat tot die Proteas se ses-paaltjie oorwinning in die tweede toets gelei het.

Hy het ná hierdie toets ook, vir die tweede keer, die nommer-een posisie op die toetskrieket-ranglys vir boulers behaal (sien die nuutste ICC ranglys hier).

Rabada het “onvanpaste en opsetlike fisiese kontak” met Australiese kaptein, Steve Smith, tydens die tweede toets van Australië se Suid-Afrikaanse toer in Port Elizabeth gemaak (sien die video van die insident hier). Jeff Crowe, die wedstryd-skeidsregter van die toets en lid van die Elite Paneel van Wedstryd-skeidsregters, het aan SuperSport gesê Rabada het die geleentheid gehad om die kontak met Smith te vermy, maar het steeds opsetlik daarmee voortgegaan. “Dit is ook teleurstellend dat hierdie gebeur het ’n dag ná die pre-wedstryd vergadering wat ek met albei spanne gehad het, waar die belangrikheid van respek vir opponente uitgelig het.”

Die ICC het drie strafpunte aan Rabada vir hierdie oortreding toegeken, wat sy strafpuntrekord vanaf vorige oortredings na nege verhoog het. Agt strafpunte lei tot die skorsing van ’n speler vir twee toetswedstryde, ingevolge die ICC strafpuntreëls. Rabada is, tesame hiermee, ook met 50% van sy wedstrydfooi beboet.

Dit is die tweede keer dat Rabada geskors word: hy het laas jaar in Julie Suid-Afrika se tweede toets teen Engeland gemis nadat hy op Ben Stokes gevloek het.

Die afgelope paar weke in die Sunfoil Toetsreeks tussen Suid-Afrika en Australië is volgens Lloyd Burnard, voormalige sportredakteur vir The Witness en joernalis vir Sport24, gekenmerk deur gedrag wat nie by die waardes van krieket pas nie. Krieket is bekend as ’n ‘gentleman’s’ sport, waar spelers wedersydse respek toon sonder die kullery, verbale aanvalle en intimidasie van ander sportsoorte. ’n Ander situasie waar hierdie ideale geskend is in die afgelope toetsreeks, is toe David Warner van Australië ’n emosionele uitbarsting teenoor Suid-Afrikaner Quinton de Kock op ’n stel trappe by die eerste toetswestryd gehad het in reaksie op De Kock se afbrekende kommentaar oor Warner se vrou (lees meer hier).

Rabada se insident met Smith en sy soortgelyke ekspressiewe reaksie toe hy vir David Warner in dieselfde wedstryd uitgeboul het, is volgens Burnard verdere voorbeelde van die afbreek van die gees van krieket.

In reaksie teenoor sy skorsing het Rabada gesê dat hy sy ekspressiewe viering van sy paaltjies sal moet staak. Sy aanwysing as speler-van-die-wedstryd is, volgens hom, ’n “bittersoet” gevoel, omdat hy sy span en homself deur sy aksies in die steek gelaat het. Hy beplan om op ander maniere sy spel te verbeter in die tyd wat hy geskors is, en om te leer uit sy foute (video van Rabada se reaksie aan die media).

Die derde toets in die reeks sal op 22 Maart in Kaapstad plaasvind. Morné Morkel sal Rabada na verwagting vervang.

 

(Bron vir foto: Ron Gaunt / BCCI / SPORTZPICS)

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s