Tuis

Dit moes ’n baie lekker vakansie gewees het, want daar is baie huilende ouers by die busstop. Nie een van hulle is lus om hul studentekind af te sien langs die Greyhound-bus nie, maar hulle sal moet – hy vertrek oor sewe minute.

Ek staan ook in die ry, kussing en bagasiekaartjies in die een hand en my laptop-sak oor my skouer. My ma en pa is al op pad terug huis toe in ons rooi Ford Focus. Ons gesin verkies, sonder dat ons dit ooit bespreek het, om die afskeid-ding maar eerder vinnig en pynloos af te handel. Dis nou al my vierde jaar by die NWU, ver bo in Potchefstroom, so dis darem nie asof die busrit vir my nog so ’n traumatiese ervaring is nie.

Maar enige afskeid bly seker maar swaar, vir my ook. Ek kon my ma se donkerbril deur die voorste ruit sien toe ek netnou ’n laaste keer vir hulle gewaai het. En dit was bewolk buite.

Ek kyk rond na die Shell-garage, die mall oorkant die pad, die heuwels langs die N2 waarop ek oor ’n paar minute gaan ry. ’n Laaste blik van my tuisdorp. Dit was nou wat enige student ’n nodige vakansie sou noem. Ná ’n kwartaal vol chaos is dit letterlik al wat help om weer jou gesonde verstand te herstel.

Hartenbos is die droomvakansieplek vir menigte studente. Eintlik enige iemand, besef ek. Ek het van middeljariges tot tieners tot kinders op pienk fietsies raakgeloop tydens my drafsessies op die ATKV Wandelroete langs die strand. Daar was bejaarde paartjies wat met hul karavaan langs die see kom kamp het. Gesinne het in hulle vakansiehuis kom bly vir die Paasnaweek, hierdie jaar gerieflik gekombineer met die Maart-skoolvakansie. Die rede hoekom ek (en meer as helfte van die land) dit as die perfekte vakansieplek beskryf, is al die bedrywighede wat hier aan die gang is. Veral oor Desember.

Bo en behalwe die see ‒ die eerste ding waaraan mense van die middelste provinsies nie gewoond is nie ‒ is daar baie dinge aan die gang tydens vakansies in Hartenbos. Kunstenaars van oor die hele land tree byna elke aand in die ATKV Amfiteater op, twee blokke van my huis af. Staanplekke in die kuslangse karavaanparke is al ’n jaar vooruit volgeboek, dieselfde vir die rietdakrondawels ’n paar strate van die strand af. Die nuwe ATKV Seefront, twee jaar terug se opgradering van die vakansie-oord, is basies nou ’n mall met ’n see-uitsig. Daar is ’n waterpark, ’n mini-gholfbaan, donut- en pizza-winkels en natuurlik oulike geskenkwinkels. Stalletjies wat enige iets verkoop waaraan jy kan dink, is volop langs die pad tot by die oord. Die strandverhoog, so 5 minute se stap van die Seefront af, is vakansietyd bedrywig met radio-aanbieders wat speletjies met die kinders op die strand speel en plaaslike sangers wat ’n geldjie wil verdien. Nog mense wat goeie geld in hierdie tyd maak, is die geel-en-rooi lewensredders, vars uit (of steeds in) die omliggende hoërskole.

Die enigste nadeel aan hierdie idilliese vakansieplek, is dat verkeer ’n absolute nagmerrie is. Moenie oor die naweek ’n dag-uitstappie Mosselbaai toe beplan nie ‒ daardie 10km gaan jou oor Desember of Paasnaweek twee ure vat. Min of meer.

Dís die bedrywige Hartenbos. Seisoentyd-Hartenbos. Ander mense in die land se vakansie-Hartenbos. Vir my is dit huis, maar met ’n heel ander gesig.

Deur die jaar is die strande stil. Die karavaanparke is leeg, behalwe vir plaaslike skoolkinders met fietse. Ek draf in niemand vas op die Wandelroete nie, en dit voel nie asof mense my snaaks aankyk as ek die gedigte by elke bankie langs die paadjie lees nie (goeie Afrikaanse literatuur en die see… wat kan beter wees?). Deur die jaar is die winkels sonder mense, en die rakke bly vol. Die gewilde ATKV Amfiteater word net oor naweke gebruik vir boeremarkte of kerkfunksies, en deur die week speel die seuns van die buurt daar touch-rugby. Ek is nie bang om saam met my vriendinne in Mosselbaai te gaan koffie drink nie, want daar is nie verkeer nie. Ek kan saam met die ander ‘locals’ in die see swem, snorkel en vis-en-chips by die rooi Londen-bus langs die hawe gaan eet, want die eetplekke en aktiwiteite se pryse het nie opgegaan om die vakansiegangers uit te buit nie.

Die waardin by die deur vra vir my van en my bagasiekaartjies.

Diep asem in – my laaste totsiens aan die Hartenbos-lug waarin ek groot geword het. Ek besef ek het nie ’n laaste keer na die see gaan kyk nie, ek was bietjie haastig om in te pak ná ons middagete by Stars, bo by die Mosselbaai Superspar. In my een asemteug proe ek egter so ’n bietjie van die see. Iets wat ek nie weer bo in Potch sal ruik nie, so ek asem dit maar in, saam met die petrol, die vrugte van die plaasstal langs die garage en die seep by die karwas.

Dit was ’n goeie vakansie, en ek kom binnekort weer terug. Dan is my strand hopelik weer leeg dat ek daar kan gaan sit en die water kan bekyk. Sonder enige ander gedagtes of afleidings.

Tuis 1

Advertisements

One Comment Add yours

  1. Son says:

    By Hartenbos het ek ‘n stukkie van my hart gelos. Ons hou elke jaar daar vakansie, in dieselfde ATKV huisie. Ek sal enigiets gee om daar te kon bly, permanent. Soms gaan kuier ek met die bus vir my meisiekind (op die plaas buite Aberdeen) en die bus ry via Mosselbaai, (moenie my vra hoekom daardie roete nie!). Ek het al baie gedink ek klim sommer af en bly so rukkie 🙂

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s