Koshuis

Dit het so ‘n rukkie terug begin reën, maar dit het klaar weer opgehou. Wispelturige Potchefstroom-weer. Ek het ‘n uur en ‘n half oor voor ek weer klas toe moet gaan, so ek het besluit om ‘n Voorhuis-middagete te gaan kry en ‘n bietjie in my kamer te kom sit.

My klein, boksie-koshuiskamer, skaars groot genoeg vir ‘n mens, maar ook oorgenoeg.

Ek maak vir my koffie en gaan haal kookwater op die bloksitkamer. Ek het lankal my ketel weggepak om plek te maak vir die popcorn-masjien, ek gebruik hom in elk geval meer. My kamerdeur is toe, so ek maak YouTube oop en soek iets waarvoor ek lus is: “modern country”, Frank Sinatra, Pentatonix, Arctic Monkeys of Westlife… Daar is opdragte wat ek moet doen, skryfstukke wat moreoggend 08:00 op eFundi ingedien moet word, maar ek voel skielik dit kan nogals goed gekombineer word met ‘n episode van Friends.

My blindings is oop, want dis ná 14:00 (voor dan skyn die son te warm op my lessenaar). Ek kyk in die boom vas, op derdevloer-hoogte. ‘n Groen-grys voëltjie is besig om ‘n nes te bou. Ek weet nie presies watter soort voëltjie dit is nie, maar hulle maak altyd rondom skemertyd ‘n reuse, raserige swerm in die boomtoppe van ons koshuis se tuin. As ek my venster ooplos, ontdek ek ten minste een miniatuur groen veertjie iewers op my tafel elke aand.

Hierdie kamer het vir my ‘n hawe geword. ‘n Plek waar ek herlaai, geestelik en fisies – alhoewel slaap maar deesdae min is. Ek werk hier, ek ontspan hier. Ek kuier, huil én lag hier, in geen spesifieke volgorde nie.

Ek pak soms my vuil koppies in die mikrogolf om later te was, net om nóg vuil te maak as my vriendinne kom kuier. Op my lessenaar is ‘n pragtige potplant wat ek hard probeer om aan die lewe te hou. Daar is ook ‘n Akademiese Raad kalender wat ek vir R35 gekoop het, met die hoop dat ek my lewe dalk meer georganiseerd kan kry. As ek ooit na iemand verlang, kan ek net op een van my mure soek: ek het seker gemaak daar is ‘n foto van elke mens wat ek liefhet. Op my swart Mr Price Home-rakkie – wat ek sélf aanmekaargesit het – is Weg!- en Getaway-tydskrifte wat ek skelm op my Apteekrekening gekoop het, en boeke wat ek vas van plan is om (eendag, as ek tyd het) te lees.

Ek kan seker uitbrei oor alles waaraan ek dink op hierdie oomblik in my kamer, maar dit sou net weer soos ‘n vervelige, besinnende skool-opstel lyk. Maar ek is, soos ‘n mens seker kan agterkom uit my vorige inskrywings, ‘n aanhanger van oomblikke. Ek glo ‘n oomblik kan onvergeetlik wees, en ‘n invloed hê op sekere aspekte van wie jy is. Dink aan ‘n oomblik wat jy huil vir ‘n sekere gedeelte in ‘n boek of fliek, of die oomblik toe iets jou oortuig het om na ‘n sekere universiteit toe te gaan. Die oomblik wat jy besef jy is verlief, en die oomblik wat jy lag omdat jy niks daaraan kan doen nie. Die oomblik wat jy agterkom jy mis ‘n sekere plek waar julle altyd gaan kamp het as kind. Die oomblik wat die meisies op jou gang vir jou verjaarsdag kom sing, 00:00 die nag (en jy is nogsteeds wakker, besig om te leer). Die oomblik wat jy iets sien, hoor of beleef wat die manier waarop jy dink die kleinste bietjie verander.

Mense onderskat sulke oomblikke, al is dit vinnig tussen klasse.

So ek drink my koppie koffie. Met ‘n stukkie beskuit, al het ek reeds geëet. Ek kyk na die boom buite my venster, luister na twee stemme wat ‘n gesprek voer in die gang, en na Frank Sinatra. Daar is tye wat ek die huis mis, maar dan is daar oomblikke wat ek besef: dis lekker om nou, hier waar ek is, ‘n student te wees in Potchefstroom. Sommer net lekker.

Ek hoor donderweer, en dit begin weer saggies reën. Iemand hardloop paranoïes op die tuinpaadjie verby Wes-kampus toe, baadjie oor die kop. Ek is mal oor hierdie weer – dit maak my rustig, en dis die beste weer om in te werk. Of te lees, of te slaap. Of te dink.

En nou moet ek gou ‘n opdrag gaan doen voor klas. Ek sug. Die oomblik is verby.

Advertisements

One Comment Add yours

  1. ekmyselff says:

    In the moment. Jou kamer werk beslis vir jou.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s