Waarheid in die kollig

Filmresensie vir: Spotlight

Regisseur: Tom McCarthy

Hoofakteurs: Mark Ruffalo, Michael Keaton, Rachel McAdams, Liev Schreiber, Stanley Tucci

Datum van vrystelling: 2015


Joernalistieke rolprente het ’n nuwe prominensie en betekenis begin kry in die afgelope paar jaar. Flieks soos The Post en Frost/Nixon plaas opnuut fokus op die werk van joernaliste en die maniere waarop hulle deur middel van kwaliteit in-diepte verslaggewing ’n daadwerklike verskil in die samelewing maak. Spotlight is geen uitsondering op hierdie revolusionêre tema nie ‒ in der waarheid, ’n voorloper.

Die film verskaf ’n eksklusiewe blik op die wêreld van ondersoekende joernalistiek. Die realistiese aard daarvan is veral te danke aan die feit dat dit op ware gebeure gebaseer is. Nie ’n ongewone verskynsel onder rolprente nie (die beste stories is dikwels dié wat reeds bestaan), maar in hierdie spesifieke film se geval is dit nie noodwendig so gerusstellend nie.

Spotlight is ’n vier-persoon ondersoekende verslaggewingspan by die Amerikaanse koerant Boston Globe. Hulle ontvang opdrag van hul nuwe redakteur (vertolk deur Liev Schreiber) om ’n onlangse rubriek oor ’n Katolieke priester wat op aanklag van kindermolestering staan, op te volg. Soos bronne geraadpleeg word en die waarheid begin ontvou, bou die spanning daarmee saam ook al hoe meer op. Die vier verslaggewers se proses van joernalistieke ondersoek word geloofwaardig en ook opwindend uitgebeeld, en die kyker word as’t ware vasgevang in die toenemend skokkende onthulling van nuwe feite. Hierdie ondersoek maak voorsiening vir verskeie opwindende draaie in die plot.

Die storie behels top-klas vertonings van bekende akteurs soos Michael Keaton, Mark Ruffalo en Rachel McAdams. Dit, die uitstekende kamerawerk en aaneenlopende, boeiende spanning van die joernaliste se ondersoekproses, maak dit ook duidelik om te sien hoekom Spotlight met die Oscar-toekennings vir Beste Rolprent en Beste Draaiboek in 2016 weggestap het. Dit is verder vir verskeie ander Oscars en toekennings genomineer waarvan dit ’n handvol gewen het, en met goeie rede.

Spotlight is nie net gerig op kykers met kennis oor en belangstelling in joernalistiek of die media nie, maar ’n wêreldwye gehoor wat die waarheid wil sien seëvier. Nie net is dit ’n hoë standaard film nie, maar die uitbeelding van ’n storie wat vertel móét word ‒ en hoe die Spotlight-span dit vertel het.

FOTO: Die amptelike rolprentplakkaat vir die 2016 “Best Picture” Oscar-wenner, Spotlight. (Bron: Pop.edit.lit)

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s