Plek van Geregtigheid: ‘n Opinie

Ek was laas week in die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika. Nie op enige aanklag nie ‒ darem. Ek was daar as ‘n toeskouer, ‘n aktiewe burger van my land. En as ondersteuning vir my vriendin se ma, ‘n staatsaanklaer, wat vir die eerste keer ‘n saak daar hanteer het.

Dit was die ideale geleentheid. Ek, die bogenoemde vriendin, Danielle, en nog ‘n goeie vriendin wat ‘n regstudent is, Margy (kom ons sê net ek gaan eendag vriende op die regte plekke hê), het die middedorp van Johannesburg betree vir die belewenis van ‘n regte, egte Konstitusionele hofsaak. Bowendien sou ek ook ervaar hoe dit sou wees indien ek in my toekomstige loopbaan moontlik met hofverslaggewing te doen sou kry.

Die middedorp is régtig nie mooi nie, sonder twyfel. Maar die konstitusionele hof van Suid-Afrika het my met gemengde gevoelens gelaat.

20180510_093048
“Flame of Democracy”, sedert 2011. FOTO: Rouxné vd Westhuizen

Ek is nie eintlik seker wat ek verwag het nie. Margy het op pad Constitution Hill toe ‘n paar interessante goed vertel oor die plek: die simboliek van die boom waaronder al die diverse burgers van Suid-Afrika nou saamstaan, die “Flame of Democracy” wat al sedert 2011 brand (vyftien jaar nadat die Grondwet saamgestel is) en die beesvelle voor die regters se sitplekke, wat almal verskillend is en só die diversiteit van ons land uitbeeld. Dis alles so fassinerend, en dit voel vir my asof niemand eers daarvan weet nie!

 

WhatsApp Image 2018-05-20 at 10.57.41 (1)
Die boom van diversiteit, wat die eenheid en saamstaan van alle Suid-Afrikaners simboliseer. FOTO: Danielle Giorgi

Die reuse houtdeure by die ingang is met verdere simbole van vryheid en diversiteit gekerf, en die boom-motief is in die voorportaal voortgesit deur groen mosaïek-pilare (die takke) en die krale-blare (probeer dit gou vinnig na mekaar sê!). ‘n Groot verskeidenheid bekende kunswerke is ook in die voorportaal en af met die gang se donker marmervloere te sien. Dis amper oorweldigend, as ‘n mens eers aan alles dink.

20180510_093505
Binnekant die Konstitusionele Hof van SA. FOTO: Rouxné vd Westhuizen

Tog was ek op ‘n manier… onderweldig? In my kop, ná al die mooi verduidelikings en stories, het ek die Suid-Afrikaanse ekwivalent van Buckingham Palace of die Whitehouse verwag. Maar tog kom dit vir my voor of simboliek die estetiese waarde van die gebou oorheers. Boonop het die horisontale venster binne-in die hof, wat simboliseer hoe wat ookal daarbinne gebeur uiteindelik vir die samelewing daarbuite is, eintlik net my aandag afgetrek elke keer as iemand verbystap op die middedorp-Johannesburgse sypaadjie. Dit was my eerste gedagtes, maar dit kan ook net wees omdat ek ‘n kunstenaar is. My visuele ingesteldheid kan dalk ‘n bietjie meer krities voorkom as ander persone s’n.

 

Nietemin, ek sou binnekort só beïndruk word dat ek maklik die argitekte en ontwerpers se sin vir styl vergewe het. Hierdie indruk het gekom nadat ek beleef het wat binne die deure van die Konstitusionele Hof gebeur.

 

IMG-20180510-WA0003
Tannie Sophie Giorgi, ‘n staatsadvokaat, voor die ingang van die Konstitusionele Hof. FOTO: Danielle Giorgi

Constitution Hill was voorheen ‘n tronk. Een waar Nelson Mandela, onder andere, voorheen opgesluit was. ‘n Gepaste plek, sou ek sê, om te kom waarneem hoe daar steeds, te midde van baie chaos in ons land, steeds geregtigheid geskied.

 

Ek is nie heeltemal opgewasse teen die jargon van regsake nie, maar ek het wel die ‘media summary’ van die saak gelees. Ek sal probeer om dit so eenvoudig moontlik te verduidelik (soos my twee regsvriendinne vir my moes doen).

Daar is drie eenderse sake op een slag hanteer: die appèlleerders is voorheen, in al drie gevalle meer as 10 jaar gelede, skuldig bevind aan die verkragting van minderjariges. Walglik, om mee te begin. In al drie gevalle beweer hulle nou dat hulle nie vooraf kennis gedra het oor die wet rakende lewenslange tronkstraf nie, en dit kon moontlik die uitslae van hul aanvanklike verhore beïnvloed het. Basies, van wat ek uit die een ou se storie kon verstaan, was hy nou al 10 jaar in die tronk en wil sy tronkstraf verminder vanaf lewenslank ‒ na 10 jaar. Toevallig. Omdat hy voorheen “onregverdig behandel is” tydens die verhoortydperk.

Ek weet nie van jou as leser nie, maar dit het eintlik van die begin af vir my geklink asof dié mense nie regtig ‘n voet gehad het om op te staan nie. Sou hulle dan onskuldig gepleit het as hulle vooraf geweet het hulle kan lewenslank tronk toe gaan vir die verkragtig van ‘n meisie ‒ of meisies ‒ jonger as 16? Tog het hulle besluit om dit na die hoogste hof in die land te vat. En Tannie Sophie (Danielle se ma) is een van die advokate wat moes uitwys hoe hulle “geen hoop op sukses in hul poging het nie.” En ek moet noem, sy het dit uitstekend gedoen.

Wat ek die meeste van die hele ervaring geniet het, was die regters. Die “Justices”, soos daar vooraan hulle name op hul regtersbanke staan. Ek het onbewustelik aangeneem dat regters in enige saak ten alle koste objektief moet bly, en albei kante van die saak dieselfde moet hanteer. Ek was aangenaam verras.

Daar was ‘n ongelooflike intelligensie en wysheid agter die manier waarop hulle die sake benader het. Die manier waarop hulle die verdedigende party ‒ die kant van die persone wat reeds in die tronk is ‒ gepeper het met vrae. Die manier waarop hulle op ‘n subtiele, tog ooglopende, wyse die belaglikheid van sommige argumente uitgewys het. Die manier waarop Chief Justice Mogoeng, wat aanvanklik vir my verveeld gelyk het, verwys het na ‘n vraag wat Justice Froneman vroeër gevra het (wat ek glad nie eers kon onthou nie!), sonder dat hy een nota neergeskryf het.

Vir Tannie Sophie se kant van die saak, het hulle altesaam seker drie vrae gevra. En sy moes hulle herinner daaraan om vrae te vra.

Maar, amper die meeste van alles, het ek besonderse respek gekry vir hoe die regters gehamer het op die kwessie van regverdigheid en geregtigheid. “Behoort ons ‘n keuse te maak op een tegniese punt in ‘n wetsklousule,” lui ‘n parafrasering van een van Mogoeng se vrae, “or should we let justice be served?” Ek het amper opgestaan en hande geklap (wat natuurlik buite orde sou wees, so ek het nie). Hy gaan na die kern van waaroor hierdie saak gaan, eintlik enige saak: geregtigheid. Die beskuldigde het geweet hy word aangekla van die verkragting van ‘n minderjarige. ‘n Uiters ernstige (en afskuwelike) misdryf. Daar was geen vooroordeel daar betrokke nie, hy moes besef het daar sou ernstige reperkussies wees. Die verdedigende prokureurs het elkeen gestamel vir woorde ‒ iets wat ek nie gedink het sommer gebeur in die Konstitusionele Hof nie.

Soos te verwagte, sou die beslissing eers oor ‘n paar weke bekend gemaak word.

Vir ‘n nie-regstudent, het ek nogal goed bygehou met wat in die saak gebeur het. En my vriendinne het my selfs gelukgewens met my kommentaar daarop. Ek het sommer trots gevoel. En ek het nuwe hoop vir ons land gekry nadat ek die justices van die konstitusionele hof in aksie gesien het.

WhatsApp Image 2018-05-20 at 09.01.11
Ek (middel), Margy (links) en Danielle (regs) in die hof, besig om die opsomming van die saak deur te gaan. FOTO: Danielle Giorgi

Nog ‘n interessante feit, maar dit het ek al voor die tyd geweet: ons land se Grondwet is een van die bestes in die wêreld. Hoe wonderlik is dit nie? Dis ongelooflik om te dink dat ons Grondwet gebruik word as verwysing vir die opstel van wette in ander lande. Ná my besoek aan ons Konstitusionele Hof, eens ‘n tronk in die tyd van apartheid en nou ‘n simbool vir demokrasie en geregtigheid, het ek ‘n groot sin van trots vir my land.

Mag al die ander sisteme in Suid-Afrika ook so ‘n sterk morele ingesteldheid in hul handelinge kry.

WhatsApp Image 2018-05-20 at 10.57.41
Die einde van ons uitstappie aan die Konstitusionele Hof van SA, voor die gebou. Van links na regs is Margy Jacobs, Tannie Sophie, ek (Rouxné) en Danielle Giorgi. FOTO: Die prokureur wat die appèlleerders verteenwoordig het.
Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s