Shoe-shiners en vliegtuie

Ek het al voorheen gevlieg, so dis nie asof ek  nie gewoond is hieraan nie. Maar ek moet erken, dis die eerste keer dat ek nie vir iemand hoef te waai van die boarding gate af nie. So, op ’n manier, is ek eintlik nog maar ’n rookie as dit kom by vliegtuie en lughawens.

En dit is die rede hoekom ek nie dadelik besef het die netjies geklede ou aan die ander kant van die check-in toonbanke nié die persoon is vir wie jy vra waar jou hek is nie.

Hy het my wel gehelp daarmee, en in die rigting van hek C10 gewys ‒ maar eers het hy my na die baie gemaklike leunstoel langs die roltrappe verwys. Om die waarheid te sê, hy het my subtiel aan die arm gelei tot by die ry stoele met ’n klomp ooms wat hulle skoene laat skoonmaak.

Angstig om nie die ou te verneuk nie, het ek hom dadelik ingelig dat ek ’n student is. Om kontant saam te dra, is nie vir ons ’n realiteit nie. Maar hy het net sy kop geskud, sy potjie politoer oopgemaak en my lang bruin stewels (wat nie eers regte leer is nie, maar ek is seker hy het dit geweet) begin blink vryf.

Wat kon ek doen? Ek begin toe maar geselsies maak met Engelse witkop-oom wat langs my sit, ook op pad George toe. Dit het my darem gerusgestel dat ek nog nie laat is vir my vlug nie. Hy het ’n seun op Stellenbosch wat ook nie wil ophou swot nie, het hy gesê toe hy hoor ek is besig met my nagraads op Potch. Die oom kom blykbaar altyd by die shoe-shiners verby wanneer hy op O.R. Tambo is, dis al wanneer sy skoene skoon kom.

Die vriendelike blinkvrywer het gesê as ek vir hom ’n R20 het, is hy happy. Dis helfte die prys vir ’n paar stewels se skoonmaak! Ek was darem in staat om dit dankbaar vanuit my laaste kleingeld uit te tel. My skoene het nog nooit so gelukkig gelyk nie.
Wie sê alle stadsmense is onvriendelik?

2 ID en kaartjieDie kuns daarin om ’n groot lughawe te navigeer, is tonnelvisie. Moenie jou verkyk aan die ander mense op hul eie missies nie. Vind die naaste elektroniese bord, soek jou vlug en doen wat dit sê. Moenie dink daar is dalk ’n ander, makliker manier om te loop as wat die pyltjies op die borde sê nie, en moenie dink iemand rondom jou is waarskynlik op dieselfde vlug as jy nie. Volg en vertrou die bordjies, nie die mense nie.

Ek het ná ’n paar draaie vir C10 opgespoor en op een van die staalbankies gaan sit langs die bewegende loopplank-gedoente (ek weet nie eers wat ’n mens dit noem nie?) wat ’n mens gereeld by lughawens kry. Menige kinders en besigheidsmense kom in die 20 minute wat ek op die bankie wag, daarop verby ‒ die kinders laggend, die besigheidsmense haastig en pratend oor hul Samsung’s en Huawei’s.

Mense wil ook tog nooit laat wees vir ’n vlug nie. Die ry het al 15 minute voor die boarding time tot by my bankie (seker 20 meter van die hek af) gestaan. Dit was tyd vir my om ook op te staan. Ek het weer gekyk, vir die honderdste keer, of my kaartjie nog binne-in my ID-boekie was. Dis ’n irrasionele vrees, maar dit voel altyd asof die ding enige oomblik kan uitval.

Dit het vreemd gevoel om nie vir meer as ’n uur lank met enige iemand ’n gesprek te gevoer het nie. Net ’n glimlag af en toe in die rigting van iemand wie se oog ek per ongeluk gevang het ‒ en ek het ook nie eers altyd ’n glimlag teruggekry nie. Soos ek sê, elkeen op hul eie missie.

3 BoardingOp die vliegtuig het ek langs ’n ouerige tannie gesit wat konstant foto’s van die wolke geneem het. Nog nooit het ’n rit huis toe so kort gevoel nie. Ek was skaars ’n paar hoofstukke in met Bear Grylls se outobiografie, toe ons twee ure later begin land.

Dit wen beslis ’n 16-uur-lange busrit!

Ek was skoon emosioneel toe ek die see sien. Maar ek het dit eintlik verwag. Die tannie langs my het daarvan ook foto’s geneem. Ek het eintlik nogal trots op myself gevoel: ek het die groot, deurmekaar O.R. Tambo Lughawe in Johannesburg met min moeite getrotseer, en ek was nie eers ’n klein bietjie vol senuwees tydens die opstyg en landing soos die praterige (amper huilerige) dame agter my nie.

Toe die liggie vir die sitplekgordel bo my aangegaan het, het ek opgestaan en die kamerarugsakkie van die handbagasierak af gehaal. ’n Vriend van my het vir my sy twee Canon-kameras geleen vir die vakansie ‒ een EOS 40D, en een 1000D ‒ en ek kon nie wag om hulle uit te toets nie.

Ek het buitentoe gestap, die lugwaardin bedank, en vlugtig gekyk na die omgewing van George se lughawe. Ek het gedink aan my huis, waarby ek só lanklaas was, aan die see wat ek amper kon ruik soos wat ek daar gestaan het, en aan my blink skoene.

Weg van die gedruis van universiteit, is dié vakansie amper soos ’n nuwe begin.

Advertisements

5 Comments Add yours

  1. Son says:

    Ek het nou jou beskrywing van die vlug geniet. Daar was ‘n tyd ‘n paar jaar gelede, toe ek een keer ‘n maand vir drie dae lank Johannesburg toe moes vlieg vir werk. Vanaf Kaapstad. Ek is oor die algemeen mal oor vlieg, maar sou verkies dat dit nie Gauteng toe is nie. Ek is nie mal oor Gauteng nie. Anyway, dan het ek ook so drie keer ‘n dag, elke dag, gekyk of ek nog my retoerkaartjie in my handsak het. Dit was soos ‘n troos dat ek were binnekort huis toe kan gaan. En op ‘n tyd was ek ook daardie ou tannie wat die foto’s van die wolke en die see nee. 😀

    Like

    1. Ek is bly jy het die plasing geniet! Dis eintlik wonderlik hoe sommige ervaringe kan ooreenstem! Ek is, om eerlik te wees, self nie mal oor Gauteng nie ;). Maar dit alles maak darem vir goeie ervaringe!

      Like

  2. Kameel says:

    By nou is jou vakansie seker al iets van die verlede… maar jou stewels blink nog 😊 Sterkte met die studies!!!

    Liked by 1 person

  3. Toortsie says:

    Ag, dit was tog te lekker geskryf. Ek glo jou vakansie was lekker.

    Like

  4. Oulik geskryf. Ek is mal oor vlieg, veral George toe..

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s