Rugby oor die radio

Dit was Saterdag, amper skemer, op 16 Junie. Jeugdag.

Omtrent die hele familie was vir Vadersdag-naweek by Ouma en Oupa se huis in Ladismith (die Klein Karoo een, nie Ladysmith in Natal nie). Die Springbokke sou om 17:00 teen Engeland afskop, en ons was om 16:45 nog buite, besig om Dorito’s met avokado-dip te eet en te kyk hoe my pa die vuur aansteek. Ons was net langs die skuifdeur, naby genoeg om die TV te hoor wat reeds op die regte SuperSport-kanaal ingestel was.

So ’n rukkie voor afskoptyd, verskuif ons almal binnetoe: my ma, oupa, oom en tannie en hul twee kinders. Tjips en alles. Al geselsend en niksvermoedend het ons die volksliedere voor die wedstryd gesit en kyk. Ouma het tussen die geselskap in die TV-kamer en die aartappels op die stoof beweeg, en my pa was nog buite by die braai ‒ toe die onvoorsiene gebeur het.

Al die ligte en toestelle in die huis, insluitend die TV, het afgegaan. Amper presies om 17:00.

’n Mens kon die ongelukkigheid in die vertrek hoor én voel. Dis toe dat ons besef het:

“O, ja. Eskom staak.”

Beurtkrag was terug, hoewel tydelik. En wat hartseer is, is dat niemand eers verbaas is nie. Net teleurgesteld.

My tannie het daarna die Kannaland-munisipaliteit se skedule ge-Google. Daar was niks geskeduleer vir Saterdag nie! Hulle het seker gedink die Kein Karoo-dorpies sal dit nie so erg agterkom nie.

Maar die Klein Karoo-dorpies hou van rugby. En dit is hoekom my oom, met die gesonde verstand van ’n hoërskool biologie-onderwyser, hom intussen reeds stilletjies en op sy eie manier vir Eskom gewip het.

Terwyl my familielede brommend terug buitentoe geskuif het met die eet- en drinkgoed wat vir die rugby bedoel was, het my oom sy groot, wit Toyota bakkie voor die huis gaan haal. Met mening het hy dit nadergebring, tot by die braai, en die radio op volle volume gedraai.

Die kommentator se stem en die geraas van die wedstryd het hard en duidelik oor die stil dorpie begin trek. Dis regtig nie ’n groot dorpie nie.

Ek het nog nooit rugby oor die radio geluister nie, maar dit was nogal ’n interessante ervaring. Jy kan nie self volg waar die spelers of die bal is of wat besig is om te gebeur nie, so jy moet na elke woord van die kommentator luister. En hy praat deksels vinnig!

Iets waaraan ek wel gedink het, en nou nog oor wonder, is die feit dat jy letterlik alles moet glo wat daardie kommentator sê. Hy kan enige iets oor daardie radio kwytraak ‒ ’n ekstra drie, ’n aangepaste puntetelling ‒ en jy sal nooit weet nie. Al wat jy kan doen, is vertrou dat hy die waarheid praat.

Rugby-kommentators word sekerlik maar gekies vir hul integriteit.

Dit was soos ’n voorsmakie van die ou manier van rugby ondersteun, voor TV se tyd: almal so rondom ’n braaivleisvuur, in die agterplaas saam met geliefdes. Die vrouens het steeds ’n hond uit ’n bos uit gesels. Die mans, dop in die hand, het elke nou en dan hul ore intensief op die Toyota-bakkie se radio gefokus (en hul oë op die grond voor hulle) sodra een van die spanne naby aan die doellyn kom en die kommentator vinniger en harder begin praat. Die reaksie wat in die vorm van ’n “Yes, manne!” of “Daarsy, Willie!” ontaard wanneer daar punte aangeteken word, bly presies dieselfde asof hulle dit op TV gekyk het. Of selfs van langs die veld af.

My ouma se bure (behalwe dié wat ’n kragopwekker besit) was waarskynlik dankbaar teenoor my oom en sy bakkie ‒ elk keer as hulle hul koppe by die deur uitgesteek het, kon hulle ook darem hoor wat in die wedstryd aangaan. En soos die Klein Karoo se son finaal begin sak het, het Ouma begin om die kerse in die sitkamer en kombuis aan te steek. Aangesien die aartappels nou maar half-gaar in die oond moes sit en wag.

Advertisements

4 Comments Add yours

  1. AwethentiQ says:

    Al te lekker! Die manne moet hardloop om by die radio by te hou! Ek sit die TV se beeld aan maar luister op die radio.

    Like

    1. Beslis ‘n interessante manier om rugby te kyk – beste van beide wêrelde!

      Like

  2. ekmyselff says:

    Ons luister naweke ook oor die radio uit my boer se bakkie rugga terwyl ons om n vuurtjie sit. Lekker.

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s