Van die ander kant

Hierdie is ‘n persoonlike een, en ek kry nie ‘n foto wat die gevoel vasvang nie. Hou egter uit, my volgende blog-plasing gaan ‘n wonderlike kombinasie van see-uitsigte en mooi Afrikaanse digkuns bevat. Belowe.

Ek het aan ‘n netjies gedekte tafel gesit, mooi aangetrek, by ‘n borgebedankingsfunksie wat ek vir eens in my universiteitsloopbaan nie help reël het nie. Ek was ‘n metgesel, letterlik net daar vir die kos en die geselligheid. Dit was fantasties.

Dis nou al amper ‘n jaar wat ek nie meer koor sing nie. Ek het twee jaar lank gesing, nie eintlik so lank nie. Ek het wel van graad 1 tot 12 ook gesing, maar ons skoolkoor was nog ‘n nuwe ding by my hoërskool toe ek daar begin het. Ons het nie aan kompetisies of sulke dinge deelgeneem nie. So, my tyd by die NWU PUK-Koor was die ordentlike koorjare van my lewe.

Ek weet hulle sê elke goeie ding kom tot ‘n einde. Maar dit voel darem bitter onregverdig dat ek vir hierdie hoofstuk in my lewe moes totsiens sê toe ek nog nie regtig wou nie.

Dit was wel, gee ek toe, ten bate van my akademie. Honneurs is nié speletjies nie (waarskuwing aan enige iemand wat dit dalk oorweeg), en ek mag dalk ‘n stuk van my persoonlikheid verloor het as ek nog ses ure ‘n week aan repetisies moes afstaan. So ek weet, in my hart, dit was die beste besluit. Maar dit is ‘n besluit wat my ook maar deksels lank gevat het om te neem. Dit was meer as vier maande se wik en weeg, voor ek die moed gehad het om vir ons dirigent die aaklige boodskap te stuur.

Ja, ek het letterlik my eie hart gebreek.

Darem sien ek steeds die wonderlike vriende wat ek daar gehad het minstens een keer ‘n week. Ek kuier steeds saam met hulle oor middagetes en koffies, en ek het selfs al ‘n paar joernalistieke opdragte oor die koor gedoen sodat ek by hulle repetisies kon gaan kuier.

Maar ek verlang steeds, op ‘n manier. Daardie gevoel van saam oefen, saam deur moeilike maar asemrowende musiek werk, saam optree. Saam gratis koek en koffie by die Jonge Akker op kampus kry, nadat ons ‘n seënbede by die doktorsgradeplegtigheid gesing het. En saam daardie mooi konsertklere dra vir optredes.

Soos by die borgebedankingsfunksie.

Hulle het, soos altyd, soos engele gesing. Vars van die Wêreld Koorspele in Pretoria, twee goue medaljes verder… Maar die PUK-Koor se beste eienskap lê nog altyd hier: hulle gryp elke gehoorlid om die hart, vat hulle saam op die storie wat die musiek vertel.

Hier is die eintlike punt van hierdie plasing: my emosie by daardie funksie. Die trane waaroor ek nie eers skaam was nie. Want dit was net tydens een liedjie uit die drie wat hulle gesing het. Ek het ‘n rukkie terug in my blog-reeks oor verlede jaar se koortoer, as deel van My Spore op die Atlas, geskryf oor Shenandoah, die liedjie wat ons as koor uit volle bors gesing het terwyl ons in die Adriatiese see (aan die kus van Kroasië) geswem het. Maar die eintlike manier waarop die koor dit sing, is in sogenaamde “sirkelsang”, met die koorlede verspreid tussen die gehoorlede.

Vir die eerste keer wat dié liedjie gesing is, was ek deel van die gehoor.

‘n Sopraan het langs my gestaan, iewers agter my ‘n alt, toe die meisies – net die meisies – met die eerste gedeelte inval:

Oh Shenando’, I long to see you
And hear your rolling river
Oh Shenando’, I long to see you
Way, we’re bound away
Acrosse the wide Missouri

Soet, soos meisiestemme mos maar is. Dan is dit die mans se beurt. Die basse en tenore, vir sulke uiteenlopende stemme, het nog altyd vir my mooi saamgevloei:

 I long to see your smiling valleys
And hear your rolling river
I long to see your smiling valleys
Way, we’re bound away
Acrosse the wide Missouri

Toe begin almal saamsing, ‘n herhalende eggo van dié twee verse in verskillende stemme wat soos branders oor jou rol: elke een effens anders, maar ewe kragtig. Ek moes my oë toemaak om te luister, want die impak was groot. En om die trane ‘n bietjie weg te steek.

Want hoewel baie musiekstukke my tot trane kan dryf, het ek nog nooit aan hierdie kant van Shenandoah gesit en beleef wat dit aan die gehoor doen nie. ‘n Mens fokus mos maar op die melodielyn wat jou eie stemgroep sing.

En nou verstaan ek hoekom dit altyd ‘n gunsteling was vir gehore waarvoor ons al opgetree het. Die musiek is om jou, en hulle sing tot binne-in jou. Die video kan dit onmoontlik met dieselfde emosie oordra, maar ek moes dit net weer hier deel. Sodat, indien jy nog nie my vorige Shenandoah-plasing gelees het nie, jy die effek kan verstaan van hoe die lied geskryf is.

Ek is byna seker ek het eerste begin hande klap. Die deftig geklede koorlede het, nadat hulle Psalm 145 as tafelgebed gesing het (en hier kon ek nie anders as om saam met die altstemme te sing nie), met glimlagte verby my by die saal uit gestap.

Ek het nie saam met hulle gestap nie, en my hart het weer ‘n bietjie gebreek, maar ek het ook geglimlag.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s