Van Parys, met liefde

20180728_095601
Die brug waarmee jy van die Noordwes-provinsie tot in die Vrystaat (en Parys) inry. FOTO: Rouxne vd Westhuizen

“Welcome to the Free State” is die eerste ding wat jy sien. Ons het seker die omgekeerde bordjie gemis wat die Noord-Wes-provinsie aankondig. Parys is nie mooi in die winter nie, maar die Vaalrivier is. Anders as sy naam, is die rivier altyd aanskoulik in enige seisoen. Dis lekker om te sien wanneer jy oor die bruggie ry, net voor die dorp.

20180728_115215
Hoi Polloi is ‘n gewilde eetplek in Breëstraat, Parys. FOTO: Rouxne van der Westhuizen

Ek was nog net een keer vantevore in Parys, ook vir ’n daguitstappie. Toe het dit gereën, en nadat ek en my koshuisvriendin en haar broer by Hoi Polloi ontbyt geëet het, het ons onder sambrele in ’n herfsblaar-bestrooide Breëstraat afgestap. Dis nou winter, en hoewel die weer steeds bietjie grys en mislik lyk, is dit warmer as laas.

Ek en my kêrel, Marco, het lankal besluit ons wil ’n road-trip Parys toe vat, tydens een van die skaars naweke wat ons nie te veel werk het om te doen nie. Hy het ’n skoolvriend wat sy teologiese praktiese tydperk by die NG Kerk in Parys doen, en hulle het mekaar lanklaas gesien. Die band tussen oud-krieketspanmaats is immers onbreekbaar.

By die teoloog se huis aangekom, drink ons eers koffie voor ons Parys-toer begin ‒ ons het net ’n paar uur vir die ekspedisie, so ons moet dit benut. Ons maak ’n draai by verskeie antiek- en kunswinkeltjies, meer om my ontwil as dié van my twee manlike metgeselle. Ek voed my siel ’n bietjie met al die ou en mooi goed in Breëstraat: donkerhout vertoonkaste soos die een wat ek eendag in my huis wil hê, die tierlantyntjies van jare lank se versamelaars, en die groot en duur skilderye van kunstenaars wat ek nog nie so goed ken nie (om eerlik te wees, ek was nog nooit regtig ’n groot aanhanger van moderne kuns nie ‒ my gunstelinge bly maar die Monet’s en Turners en Michelangelo’s van destyds). Maar dis mooi om te sien daar is ’n dorp wat soveel geleenthede bied vir jong kunstenaars. Al is dit net om hul skilderye vir die eerste keer uit te stal.

’n Toer deur Parys vat nie baie lank nie. Dis nie ’n groot dorp nie, en Breëstraat is eintlik waar al die aksie is.

Daar is wel ’n paar ander besienswaardighede. Die hangbrug, wat uit 1919 dateer, is byvoorbeeld ’n plek waar menige oggendstappers, vissermanne en toeriste kom kuier. Die brug strek oor ’n deel van die Vaalrivier waar die stroom ’n bietjie sterker loop. As jy oorstap, kom jy by Parys se gholfbaan-eiland uit. Ons neem ’n paar foto’s op die brug en ook van die slotte aan die relings waarop mense hul ewige liefde aan iemand verklaar. Dis blykbaar ’n algemene neiging onder al die plekke waar daar ’n brug is ‒ ek dink byvoorbeeld ook aan die French Toast filmstel in Hartbeespoort, en ook aan die reuse brug in Salzburg, Oostenryk.

20180728_120752
Die slotte op Parys se 1919 Hangbrug. FOTO: Rouxne vd Westhuizen

Volgende wys Bernard vir ons waar hy elke Saterdagmiddag aan die plaaslike parkrun deelneem. Dit begin by die rivier, en eindig ’n ver ent af met die rivier. Ek sien nie enige vissermanne nie, maar wel ’n string skoongemaakte visse op ’n staalstellasie. Dit laat my vir ’n lang oomblik hartseer word die grootskaalse besoedeling wat al vir jare ’n ernstige kwessie in hierdie omgewing is… Riool- en mynafval het veroorsaak ’n hele paar gesondheidskwessies onder mense, en beskadig die pragtige ekologie in en rondom die rivier.

Hoe kyk ’n mens toe terwyl só ’n mooi stuk natuur stadig maar seker vernietig word?

Ons stap tot by ’n stukkie waar jy tot op die klippe kan klim. Hierdie area lyk soos die plek waar ek as eerstejaar saam met ons kerk gaan kamp het, ook langs die Vaalrivier, en waar ons sorgeloos geswem het op die grens van Noord-Wes en die Vrystaat (ons het onsself provinsiale swemmers genoem). Dis mooi, en ek wonder hoeveel mense het al met dieselfde gedagtes só gestaan en staar na die blink waters. Die rivier het ’n terapeutiese effek op die mense wat hier grootgeword het, en ook op wie ook al hom vir die eerste keer sien. Selfs al is hy veel groener as wat hy moet wees.

Ons eindig die dag af in ’n stapel containers wat ingerig is as ’n restaurant: die Eiffel Waffle House. Al ooit gehoor van ’n Pizza Wafel? Dis die moeite werd, indien jy weer ’n dag in Parys spandeer.

20180728_125628
Die Eiffel Waffle House, gebou uit gestapelde containers. FOTO: Rouxne vd Westhuizen
20180728_132642
‘n Pizza Waffle, hemels. FOTO: Rouxne vd Westhuizen

 

 

 

 

Dis nou nie Frankryk nie, en dis ook nie somer nie, maar die klein Vrystaatse dorpie het ’n rustige effek op sy inwoners en sy besoekers. Ons het net ’n dag tyd gehad om te verken, en ek weet nie genoeg van die omgewing af om gesien te word as ’n regular nie (behalwe dat die dorp geleë is in die Vredefort Koepel, ’n Wêrelderfenisgebied waar die grootste meteoriet in geskiedenis die aarde getref het).

Maar ek moet sê, dit was die regte tipe wegbreek wat ek in die middel van die kwartaal nodig gehad het.

20180728_123239
Die mooie Vaalrivier. Die grens van Noordwes wink aan die ander kant. FOTO: Rouxne vd Westhuizen

Vir meer inligting oor die besoedeling van die Vaalrivier en die effek daarvan, besoek gerus SAVE the VAAL se webtuiste (kliek hier). Hierdie organisasie is daarop gemik om die plaaslike munisipaliteit verantwoordbaar te hou vir die bestuur van hierdie omgewingskwessie, en ook om verdere besoedeling in die toekoms te verhoed. Gaan lees op hul webtuiste hoe jy ook ’n bydrae kan lewer.

Advertisements

2 Comments Add yours

  1. perdebytjie says:

    Lekker gelees hier by jou, dankie.

    Liked by 1 person

  2. ekmyselff says:

    Paris… down by the river…. 😂🤣
    Pragtige dorpie

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s