Worcester

Maak nie saak in watter straat jy is nie, die berge lê altyd iewers voor jou in die verte. Beeldskoon, rustig, net soos Worcester.

Die mense hier is nie gejaagd nie. Daar is altyd nog ‘n bietjie tyd vir groet, geselsies aanknoop, mekaar help. Ek was bevoorreg om vir ‘n paar dae hierdie gemeenskap vol goeie harte eerstehands te beleef.

Ek is, tesame met my Honneursjaar, ‘n assistent vir die Byderhand-projek. Dit is, volgens die amptelike beskrywing, ‘n digitale leeservaring wat gerig is op plekspesifieke literatuur wat jy deur middel van QR-kodes kan lees. Byderhand het al verskeie subprojekte geloods (gaan lees ‘n bietjie meer hieroor in my vorige inskrywing oor Byderhand Rusplekstories). Die mees onlangse een is in samewerking met die Pionierskool vir Siggestremdes in Worcester: die Byderhand-Pionierskoolprojek.

Hierdie projek is aansienlik anders as al Byderhand se vorige ondernemings. Byderhand fokus op plekspesifieke literatuur, en so behels hierdie projek ook die digkuns en kortverhale van plaaslike Worcester-inwoners sowel as leerders en oud-leerders van die Pionierskool.

1Dit het baie navorsing en ‘n groot aantal rolspelers geverg om ‘n nuwe, toeganklike digitale koppelvlak te ontwerp wat blindes en siendes op dieselfde vlak in staat sou stel om die stories en gedigte te ervaar. Die opening van hierdie interaktiewe projek het op Donderdag 30 Augustus plaasgevind en al die betrokkenes se skedule was, vir hierdie dag, omtrent volgeboek.

Die oggend – Pionierstories by Blindiana Barista

Al die Pionierskrywers (soos ons hulle begin noem het) wat ‘n storie geskryf het vir die projek is genooi na ‘n klein funksie by Blindiana Barista, ‘n restaurant wat deur die Innovation for the Blind gestig is. Hier sou hulle oor ‘n koppie koffie en ‘n verversing vir die eerste keer hul eie stories hoor.

Quinten Pendle was die eerste skrywer wat opgedaag het. Hy besit sy eie klankateljee in Klerksdorp, en het vertel hoe hy oornag met die bus gereis het tot in Worcester om die opening by te woon! Op die tafel het ons – die Byderhandspan – reeds die rye houtbordjies met stories uitgepak, en ons het syne vir hom uitgesoek. Hy het sy slimfoon uitgehaal en behendig deur middel van ‘n skermleser deur die opsies geluister. Hy het die braille-instruksies op die bordjie gelees, reg bokant die gedrukte teks met die titel van die storie wat hy geskryf het: “Musiek – die taal van herinneringe.”

Langs die instruksies was die klein vierkantjie waar die QR-kode ook met braille-spikkels aangedui is. Toe plaas hy sy foon oor die kode om dit te skandeer, maak die skakel na die Byderhand-netwerk oop, en begin luister na Pieter Botes, ‘n onderwyser by die Pionierskool, se stem wat voorlees…

Hy luister die eerste paar sinne aandagtig deur, en reageer dan met ‘n opgewonde, herhalende “Dis só awesome!”

Ná Quinten begin die ander skrywers ook opdaag: Nicky Labuschagne, die bestuurder van ‘n plaaslike NGO wat lewensvaardighede vir kinders met veelvuldige gestremdhede bied; Philip Crouse wat die koördineerder van die Tegnologiesentrum is en vir Gustaf (Byderhand se multimedia-ontwerper) gehelp het om die koppelvlak te toets en te verander om toeganklik vir blindes te wees; Christo Vorster, die skakelbord-opleier by die Afdeling vir Loopbaanontwikkeling, wat al sedert 1961 koor sing en nou die voorsitter van die Worcester Mannekoor is.

Dan is daar Madelene van der Berg, ‘n kliëntediensbeampte en ook ‘n verspreider van aalwynprodukte (sy was ook Quinten se destydse CSV-leier – hulle het omtrent ‘n hond uit ‘n bos uit gekuier by hierdie reünie!). Madelene het sommer ‘n klomp stories ingestuur vir die projek waarin sy herinneringe uit haar skooljare deel, en twee hiervan is gebruik vir die Pionierstorieversameling.

Die ander skrywers by die funksie was Joseph Matheatau, die blinde koffiemaker in Blindiana Barista, en laastens – maar beslis nie die minste nie – Doktor William Rowland. Hy is ‘n bekende Suid-Afrikaanse digter en ‘n groot leiersfiguur op die gebied van gestremdheid, ook in internasionale blinde gemeenskappe. William se gedig, “Die huis waar ek woon,” is ‘n sentrale werk in die Byderhand-Pionierskoolprojek.

Ek het kans gekry om met elkeen van die skrywers ‘n gesprek te voer, en elke liewe een het in ons kort gesprekke ‘n unieke indruk op my gemaak met hul kennis en lewenstories. Ek het veral lekker gekuier saam met Reinette Popplestone, wie se storie ek die voorleser voor was vir die klankopname. Nadat sy dit deurgeluister het, was ek skoon verlig toe sy met groot entoesiasme vir my gesê het hoe baie sy daarvan hou!

Die middag – Tuinverse in die multisensoriese tuin

Die ander faset van die Byderhand-Pionierskoolprojek is die multisensoriese tuin wat in die middel van die Pionierskoolgronde gebou is. William Rowland, wie se gedig gebruik is as een van die Byderhand Tuinverse in die tuin, het ook gesê dat hy opgewonde is oor die vindingrykheid van die projek. “Sover ek weet is dit ‘n wêreld-eerste. Die verbintenis van poësie, met ‘n tuin – plante en bome – die storievertelprojek, die tegnologie wat toegepas word… Ek is nie bewus van ‘n soortgelyke projek nie.”

Die multisensoriese tuin was die breinkind van Dr. Suna Verhoef, ‘n onderwyser by die Pionierskool. Sy was die koӧrdineerder van die projek en het heeltyd in kontak met Prof. Franci, die Skryfkunsvakhoof by die NWU en leier van die Byderhand-projek (my baas), gebly. Sy is ‘n fees van ‘n mens. Die opening van die tuin het begin met haar wat ‘n toespraak gee in die skool se Biesenbach-saal, gevolg deur Prof. Franci wat verduidelik hoe die gedigte en stories geskandeer en gelees word. Hierna word almal in die saal – skrywers, leerders, projeklede en gemeenskapslede – genooi om die tuin te gaan verken. Dr. Rowland het dit amptelik gemaak deur ‘n massiewe ‘gong’ in die tuin te slaan (‘n alternatief vir die knip van ‘n rooi lint).

4

Daar was leerders en onderwysers van die Pionierskool asook Hoërskool Brackenfell, wat help bou het aan die tuin as deel van die ATKV Handevatprojek. Die muur agter die tuin is kleurvol versier met illustrasies van musiekverwante idiome, vaardig geverf deur die mense van Afrikaans.com. Daar was omtrent ‘n verskeidenheid mense wat hierdie besondere projek op die been gebring het.

Een van my take vir die week was om foto’s te neem. Ek het tussen mense deur geloop, foto’s geneem van hoe daar met slimfone by braille bordjies gewerk word, en ook van die bordjies op hul onderskeie plekke. Maar die lekkerste deel van my middag was toe ek gaan kyk het hoe ‘n paar Pionierskoolseuns – almal so tussen 10 en 15 jaar oud – krieket agter die skoolgebou gespeel het. Die ‘n bal was gemaak uit ‘n sterk plastiek, met klippies of iets in… (ek praat onder korreksie, maar dis waarvan ek dink hy gemaak was). Dit was fassinerend om te sien hoe daar met hierdie bal krieket gespeel word, nie op sig nie, maar op gehoor.

Heel aan die einde van die dag was daar ‘n konsert deur die Pionierskoolleerders aangebied om die opening van die projek af te sluit. Ek was meegevoer deur die kinders se asemrowende musikale talente in klavier, blokfluit, kitaar en sang, en die koor het my in trane gehad met hul mooi weergawe van “Let the children have a world”, “Hillbrow”en “Thula”. Ek kry selfs nou hoendervleis as ek daaraan terugdink… Luister gerus vir “Thula thula” hier onder, om te verstaan wat ek bedoel.

 

Die aand – Karootuinverse by die Karoowoestyn Nasionale Botaniese Tuin

IMG_2020Net voordat die son begin sak het, het ek vir die eerste keer rustig genoeg geraak ná ons besige dag om die natuurskoon van Worcester te kan waardeer. Toe ons by die Kokerboom-lokaal in die Botaniese Tuin aankom, het ek my verkyk aan hoe mooi die plantegroei rondom ons was terwyl daar steeds ‘n ligte sneeukombersie op die omliggende berge lê. Voor die gebou was helder oranje madeliefies, en ek het eers ‘n foto geneem voordat die Byderhandspan binnetoe moes gaan het om reg te maak vir ons derde funksie daardie dag.

Die Karootuinverse is ‘n projek wat in lyn met die Byderhand-Pionierskoolprojek val. Dit behels gedigte van digters uit die Worcester-omgewing, soos William Rowland, Diana Ferrus en David Kramer, wat op die braille-roete in die tuine aangebring gaan word. Hierdie aand se funksie het gedien as ‘n inleiding tot hierdie projek, wat eers oor ‘n paar maande amptelik in werking gestel word.

IMG_2047Die skrywers is verwelkom, ons het ‘n plaaslike spysenier gekry om ‘n klein eetdingetjie uit te sit, asook ‘n spesiale rooiwyn van die Innovation for the Blind, “The Blind Tasting.” Buite op die stoep het die hele geselskap in ‘n halfmaan gesit, en nadat ‘n paar bedankings gedoen is, het Gustaf ‘n paar van die gedigte gespeel. Van die gedigte is in Duits en Portugees vertaal, en party skrywers het die geleentheid gekry om te hoor hoe hulle gedig in hierdie tale klink.

Ek het lanklaas so ‘n sin van vrede saam met so ‘n groot aantal mense ervaar. Diana Ferrus se “Die terugkeer” was sielstrelend mooi saam met die son wat besig was om te sak, en dis iets wat my bygebly het – selfs nou, ‘n paar weke later. Dis so beskrywend van die mooi vallei waarin ons was. Al was dit vir werk, dink ek dat ek werklik bevoorreg was om vir so ‘n spesiale projek daarheen te kon reis.

Daar is geen ander plek
wat soveel verlange wek
as die Worcestervallei
wat onder die hange van blou berge gedy.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s