Weg vir ‘n week

Ek het vir ‘n week lank in Kaapstad gaan werk, en dit was een van die beste en mees skrikwekkende ervarings van my lewe.

Daar is verskeie redes hoekom dit ‘n goeie ervaring was, maar een rede vir die skrikwekkende deel: al die mense. Ek het nog nooit soveel mense met ‘n missie van hul eie op een slag mekaar gesien ignoreer nie. Die pas in Adderleystraat is vinnig, en jy moet byhou en ten alle koste nie angsbevange lyk nie. Ek kan my net indink hoeveel erger dit nie in die groter wêreldstede soos New York of Londen moet wees nie.

Maar ek wil skryf oor al die goeie redes, want daar is baie. Om van voor af te begin: indien jy dit al per ongeluk op my “About”-blad of in een van my ander plasings raakgelees het, behoort jy al te weet ek is ‘n aspirerende reisjoernalis. Ek het die wonderlike voorreg gehad om hierdie Oktober ‘n week-lange internskap by die Weg!-tydskrif te kon doen, en dit het in ‘n kwessie van ‘n handvol dae vir my die wêreld beteken.

Ons het goeie vriende wat in Goodwood bly, ‘n sentrale woonbuurt in die Kaap. Ek het by hulle gebly vir die week en elke oggend saam met een van hulle ingery stad toe. En met “oggend” bedoel ek 06:00, dalk ‘n paar minute voor die tyd, om die ergste verkeer te mis. Ons het by Woodstock van die hoofweg afgeklim – dis nou ‘n woonbuurt wat my absoluut fassineer. Die argitektuur en straatkuns is werklik besonders, asof dit spesiaal vir kunstenaars en wêreldreisigers gemaak is (hoewel ek niemand sou aanraai om alleen in die strate daar te loop nie).

Van Woodstock af kan mens direk in Kaapstad inry. Die vriendin werk vir die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, in ‘n gebou so drie blokke weg van die ABSA-gebou waar die Weg!-kantore is. Dis die eerste keer wat ek verkeer binne-in ‘n parkeerarea van etlike vloere beleef het. Dan het ons die hysbak tot op die grondvloer gevat, ingeteken, en ‘n ander hysbak tot op die agste vloer gevat. Ek het in haar kantoor ontbyt geëet (Coco Pops) en dan by die besige, besige Adderleystraat afgestap tot by die ABSA-gebou.

Dis ‘n reusagtige gebou. Ek moes weer die hysbak neem, hierdie keer tot op die agtiende vloer. Ware verhaal: ek het aan die einde van die week letterlik begin droom van hysbakke.

Die agtiende en negentiende vloer is Media24 se vloere in die gebou, wat verskeie publikasies se kantore huisves. Die Weg! se kantoor sit heel op die hoek aan die regterkant van die agtiende vloer, saam met die Weg! Ry & Sleep.

Ja, ek was ‘n bietjie op my senuwees om die mense te ontmoet van wie ek elke maand in die tydskrif lees… en hulle was nog op spertyd vir die November-uitgawe ook toe ek daar aankom, so dinge was besig.

Afgesien daarvan, is hulle ‘n vriendelike, ontvanklike span. In die kort tydjie wat ek daar was het ek navorsing gedoen, teks gehelp redigeer, prikkels vir foto’s geskryf, selfs oproepe gemaak van die kantoorfoon af! Vir ander mense is dit dalk niks, maar vir my was dit ‘n reuse voorreg om namens die tydskrif navrae te doen.

Die hoogtepunt was die tweede laaste dag: die span het saam met die plaaslike voetslaanklub ‘n liefdadigheidstap saam met kinders van die plaaslike omgewing gedoen, en ek het saamgegaan. Dit was ‘n uitreik om die kinders ‘n bietjie buite in die natuur te kry, en hulle op te voed oor die regte manier van voetslaan. Ons het die Pipe Track gestap, ‘n roete wat reg rondom die voet van Tafelberg bo Kampsbaai verby loop.

Die weer was lekker warm, en ons moes gereeld stop om water te drink. Maar ons het vir die hele roete ‘n uitsig oor die see gehad, en ons gids het ons kort-kort interessanthede oor die plantegroei of die omgewing vertel. Een voorbeeld is die ware storie van Joshua Penny, ‘n Amerikaner wat teen sy wil in die Britse weermag in die laat 1700’s gedien het. Hy het op ‘n skip in Kaapstad aangekom en gemaak of hy siek is, toe ontsnap hy op pad na die hospitaal toe en vlug letterlik die berge in – hy het vir meer as ‘n jaar lank in ‘n grot op Tafelberg gebly, wat nou bekend staan as Penny’s Cave. Dit was in die tyd wat daar nog volop wilde diere op die berg was, soos luiperde en hiëna’s…

Toe hy besluit het om terug te keer Kaap toe, was hy geskok om uit te vind dat dieselfde skip wat hom weg moes vat enkele dae ná sy verdwyning gesink het! So hy kon eintlik lankal ‘n vry man gewees het, hy het maande lank verniet in sy eie grottronk gebly.

Die kinders het ook die storie geniet, en almal het van die paadjie af gesoek na die grot waar Penny oorleef het.

Aan die einde van daardie dag het ek besef hoe bevoorreg ek was om as intern saam met die Weg!-span op só ‘n ekspedisie op Tafelberg te kon gaan. Dit was ‘n baie goeie afwisseling vir die stadsgedruis waaraan ek die res van die week ook gewoond geraak het.

Ek het ‘n week gehad waartydens ek ‘n werkende mens was. Ek het uit my eie vrye wil elke oggend vyfuur opgestaan, met ‘n glimlag. Ek was te moeg om later as tienuur te gaan slaap, en ek was oukei daarmee.

Ek dink dis veilig om te sê ek het ‘n goeie voorsmakie gekry van my toekomstige werkslewe as reis- en omgewingsjoernalis. Wat nog meer opwindend is, is die feit dat ek ‘n werk gekry het in hierdie rigting, en in my eie tuisdorp… Maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.

Advertisements

6 Comments Add yours

  1. Baie geluk met die werk wat jy reeds gekry het! Met my stap en kamp ingesteldheid sou ek ook nie omgegee het om by ‘n span soos Weg betrokke te wees nie.

    Liked by 2 people

  2. travel460 says:

    Wat ń heerlike voorreg!

    Liked by 1 person

  3. perdebytjie says:

    Dis nou ‘n heerlike voorreg, baie geluk!

    Liked by 1 person

  4. Ons het stad toe getrek, daardie verkeer is net té erg. 154 minute vir 14km. Maar Adderley moet mens vermy ten alle koste. Helen Zille het die helfte daarvan weggeneem vir haar ongebruikte ideologiese fietslaan. R158m drein-af. #askthelocals

    Like

  5. Esma Marnewick says:

    Ag lekker, Rouxne, ek’s bly jy het Kaapstad en die Weg-kantoor geniet. Kom maak weer ‘n draai by ons!

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s