Green Bay, Wisconsin

Dit was die hoogtepunt van die jaar, die twee weke waarna ons Suid-Afrikaanse groepie al vir maande lank uitsien. En ek bedoel dit letterlik, aangesien ons uitgawes vir omtrent die hele jaar ook in hierdie reis gekanaliseer is.

 

Die agtergrondstorie vir hierdie twee week-ekspedisie wat ek, my ouers, twee huisvriende en my kêrel in Oktober onderneem het, is selfs beter as hierdie blog-inskrywing s’n. My ouboet, Gerhard, is ’n klankingenieur wat so ’n paar jaar gelede op die groot passasierskepe by die Karibiese eilande begin werk het. Hier het hy die liefde van sy lewe ontmoet: Bailey, van Wisconsin in Amerika. Sy het in die kinderafdeling van die skip gewerk, en die twee van hulle het ná ’n jaar van verliefdheid besluit om te trou. In Wisconsin.

Ons reisgroepie was van die eksklusiewe groep Suid-Afrikaners wat genooi is, en dit is wat ons op die groot Emirates boeing op pad na Green Bay gekry het. Die vlug was lank, maar die moeite werd. Toe ons uiteindelik in Green Bay land, het my broer en ons nuwe skoonfamilie ons ingewag. Ek het eerste vir Bailey ’n drukkie gegee. Tot op daardie oomblik was sy net ’n gesig op ’n Skype-skerm vir ons, en dit was wonderlik om te sien dat sy net so oulik in die regte lewe ook is.

Bailey se ouers, Darren en Kim, was die beste gashere waarvoor ’n mens kan vra. Die Airbnb waarin ons gebly het, behoort aan vriende van hulle. Hulle het ons ook heeltyd op hoogte gehou van troureëlings, so ons het daar aangekom sonder veel bekommernisse. Ons oulike huisie het oorgeloop van Green Bay Packer-produkte, van die stortgordyn tot die plakkate in die sitkamer… Die Green Bay Packers is die amptelike football-span in die dorp. Die groot Lambeau Field, waar hulle tuiste is, is basies die sentrale punt in Green Bay. Die Packers is waaroor alles in hierdie dorp gaan.

20181024_173910
Ons Green Bay Packer-tema Airbnb. Foto: Rouxne van der Westhuizen.

Ek het selfs vir my ’n Packer-hempie gekoop teen die einde van die twee weke.

Dit was kwansuis herfs in Green Bay, maar vir ons het dit soos vriespunt gevoel. Toe ons die Fahrenheit waarin die Amerikaners praat omgeskakel het in Celsius, het ons agtergekom dit wás omtrent vriespunt. Wisconsin grens aan Kanada, en ’n mens kan dit sommer aan die yskoue lug voel. Gelukkig het elke huis ’n termostaat wat die hitte in die huis reguleer ‒ of dalk óngelukkig, aangesien byna almal op die ou end siek was as gevolg van die wisselende temperature.

Amerikaanse troues verskil so ’n bietjie van ons s’n. Eerstens oefen Amerikaners die hele ding voor die tyd. Die bruidspaar, bridal party (waarvan ek deel was, as strooimeisie) en die families het almal die dag voor die troue die instapproses in die Sepia Chapel gaan oefen. Twee keer. Daarna was daar ’n rehearsal dinner (ek dink nie daar is eers ’n Afrikaanse woord hiervoor nie – repetisie-ete?) by die Radisson Hotel. Kim het ’n pragtige verrassing slideshow van Bailey en Gerhard se kleintyd-foto’s asook meer onlangse foto’s van hulle gespeel. Die dinner was toe pizza en slaai, ’n absolute feesmaal. Glo my, jy kry nie ’n beter pepperoni pizza as in die Verenigde State nie!

Ek het ook my heel eerste slukkie Moonshine by die rehearsal dinner geproe. Nie sleg nie, hoewel ’n slukkie waarskynlik genoeg is om jou asem weg te slaan.

Ja, almal het gehuil by die troue die volgende dag. En met almal bedoel ek my ma-hulle, Bailey se ma-hulle, die oumas, my broer… Veral my broer. Toe hy sy troubeloftes vir haar voorlees, was dit die eerste keer wat ek sy stem sulke op’s en af’s hoor maak terwyl hy voor mense praat… Ek het maar my neutrale gesig probeer hou, behalwe vir ’n skelm traan of twee. Ek het immers heel voor gestaan, waar almal my kon sien.

 

So gepraat van die seremonie, die ligpienk rok wat ek gedra het was vir my gekoop, wat my natuurlik ’n bietjie skepties gemaak het oor die grootte. Ek was egter verheug om uit te vind dat hy soos ’n handskoen pas! Blykbaar dra ek ’n Amerikaanse medium. Interessant.

Die onthaal was in een van die lokale in Lambeau Field. Die “bridal party” het in die limo soontoe gery.

Jip. ’n Blink, swart limousine. My eerste keer in een.

Ons het eers op die pawiljoen gaan foto’s neem, by die sitplekke wat al vir drie generasies in Bailey se familie is. Blykbaar is die waglys vir seisoenkaartjies op hierdie veld omtrent agt jaar lank ‒ Amerikaners is fanaties oor hul sport, nog meer oor die Packers. Die veld is massief… Ek was darem al een keer op Loftus en Ellis Park, onderskeidelik, maar ek moet erken: hierdie was iets heeltemal anders. Nie noodwendig soveel groter nie, maar beslis indrukwekkend.

Die gelukkige paartjie op Lambeau Field. Foto: Alyssa Pederson.

Ek moes ’n toespraak maak by die onthaal. Verbasend het ek ook nie hier begin huil nie, waarvoor ek natuurlik dankbaar is. Ek het egter goeie voorlopige bemarking gedoen vir die boek wat ek eendag oor Gerhard en Bailey se lewe gaan skryf. Want hulle pragtige, internasionale liefdesverhaal is werklik ’n hele boek werd.

Ek en Broer het darem gesokkie by sy troue. Hulle het nie Jay of Riana Nel op hul speellys gehad nie, so ons moes maar tevrede wees met Bryan Adams se Summer of ’69. Maar ek dink ons het dit goed genoeg reggekry om die Amerikaanse gaste ’n smakie van Suid-Afrika te gee.

Wat my opgeval het van die mense in Green Bay, is hoe vriendelik hulle is. Toe ons ná die onthaal onder by die ingang gewag het vir ons Uber, het die ontvangsdame van Lambeau Field saam met ons buite in die koue gewag. My pa het ’n Dallas Cowboys T-hemp by een van die ander gaste geskenk gekry, en sy het geweier dat ons wegstap sonder enige iets van die Packers. Toe haal sy sommer vir ons Green Bay Packer skryfbehoeftes en sleutelhouertjie van onder haar toonbank uit!

Gerhard-hulle het hul wittebrood in Door County gaan hou, so ’n paar ure weg van Green Bay. Ons was nie regtig daar om al die toeriste-aktiwiteite te doen nie – ons het gekom vir ’n troue. Maar oor die volgende paar dae het ek en my gesin ’n paar dinge gekry om ons mee besig te hou. Ons het cheese curds geëet op my broer se aanbeveling. Ons het die stad se grootste mall, Bay Park Square, besoek, asook die Target af in die straat. Ons het na die pragtige Bay Beach Wildlife Sanctuary gaan kyk, waar jy die natuurskoon van Green Bay in herfs kan waardeer en ook inheemse roofvoëls, wolwe, coyotes en selfs ’n poema kan sien. Ons het ‘n draai gaan maak by die Oneida Casino. Ons het saam met ons nuwe skoonfamilie by Chili’s gaan eet, ’n bekende Meksikaanse restaurant met uitstekende kos. Verder het ons in ons huisie gebly, rondgestap en die ligte sneeu geniet wat een dag geval het.

 

Dit was middel-Oktober, wat beteken dat elke huis versier was volgens ’n Halloween-tema. Massiewe harige spinnekoppe, spoke, voëlverskrikkers en natuurlik verskeie oranje pampoene. Darren en Kim het selfs vir ons ’n pampoen gebring om te kerf, sodat ons ook in die Halloween-gees kon kom.

20181021_141700
Ons eie Jack o’ Lantern pampoen vir Halloween. Foto: Rouxne van der Westhuizen.

Die vlug huis toe was ’n swaar een. Nie net omdat ons ure-lange tussenstoppe gehad het op Chicago en Dubai se lughawens nie, maar omdat ons die klein maar onvergeetlike vakansie in Wisconsin moes agterlaat. Ek het die meeste gemaak van die geleentheid en ’n reisartikel oor ons ervaring geskryf, “Cheeseheads and wedding bells” ‒ gaan kyk gerus vir meer inligting oor die beeldskone Green Bay. Ek is nou bevoorreg genoeg om te kan sê ek het familie in Wisconsin vir wie ek in toekomstige vakansies kan gaan kuier.

 

Advertisements

3 Comments Add yours

  1. perdebytjie says:

    Dis so interessant! Bly jy het dit so geniet.

    Liked by 1 person

  2. Fantastiese avontuur! Daardie herfsbome is so mooi.

    Liked by 1 person

  3. travel460 says:

    Ek het nou heerlik saamgekuier deur jou oë.

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s